GEORGE NUUS - Die Pacaltsdorp-polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen vir verdere ondersoek ná die dood van ’n 56-jarige vrou in die Rosedale-informele nedersetting op Donderdag 25 Junie omstreeks 09:30.
Volgens ’n Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, lt.kol. Malcolm Pojie, word daar beweer dat die vrou se lyk deur ’n maatskaplike werker en ’n buurman aangetref is waar sy langs haar kêrel gelê het.
Die omstandighede rondom die voorval, asook die oorsaak van die vrou se dood, vorm deel van die voortgesette ondersoek. ’n Lykskouing sal gedoen word om die oorsaak van haar dood te bepaal.
Die polisie het bevestig dat geen verdere besonderhede in hierdie stadium bekend gemaak kan word nie.
Enigiemand met inligting wat die ondersoek kan bystaan, word versoek om die Pacaltsdorp-polisie te kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’