GEORGE NUUS- Twee mans in ’n wit Opel-motor is op Woensdag 4 Februarie in Pacaltsdorp deur munisipale wetstoepassers voorgekeer en gesteelde koperkabels is na bewering in die motor gevind.
Die bestuurder van die voertuig het na verneem word weggehardloop. Die kabels is na bewering uit elektriese kaste, wat geleë is in die nuwe behuisingsontwikkeling vir militêre veterane in Beachweg, gesteel.
Volgens ao. Chris Spies, Suid-Kaap-polisiewoordvoerder, het die polisie op dieselfde dag ’n 32-jarige man in hegtenis geneem.
“Volgens beskikbare verslae het lede van die Pacaltsdorp-polisie op ’n voorval gereageer waartydens George-verkeersbeamptes en wetstoepassing ’n man gekonfronteer het. Daar word beweer dat die beamptes opgemerk het hoe die man met ’n elektriese kas gepeuter het. Die man is in hegtenis geneem op aanklag van skade aan noodsaaklike infrastruktuur en besit van ’n gevaarlike wapen.”
Die verdagte sou op Vrydag 6 Februarie in die hof verskyn het.
Die saak word ondersoek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’