GEORGE NUUS - Twee jongmans van die Conville-omgewing, onderskeidelik 18 en 19 jaar oud, is Maandag 31 Maart in hegtenis geneem op aanklag van moord.
Dit volg ná hulle glo in die vroeë oggendure van Saterdag 29 Maart, die 25-jarige Enrico Africa in Kloofstraat, Parkdene, vermoor het. Africa en die twee verdagtes het glo stry gekry wat tot 'n bakleiery én tot Africa se dood gelei het.
Daar word beweer dat die verdagtes die slagoffer met 'n mes doodgesteek het.
Met die polisie se aankoms is die slagoffer met 'n wond aan sy bors gevind en is op die toneel dood verklaar.
Die verdagtes was in polisie-aanhouding in George waarna hulle gister, Woensdag 2 April, hul eerste verskyning in die hof sou maak.
Op 'n vraag of die voorval moontlik bende verwant kon wees en of die slagoffer beroof is, het Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, gesê dat alle moontlikhede in dié stadium ondersoek word. Hy het nie verder enige besonderhede verskaf nie.
"Die motief vir die aanval moet nog vasgestel word. Dit vorm deel van die voortgesette polisie-ondersoek. Ons wil nie spekuleer nie, maar getuieverklarings word ingewin en leidrade word opgevolg," sê hy.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’