GEORGE NUUS - Speurders van Pacaltsdorp ondersoek die moord op 'n 40-jarige Brandon Kaptol wat Donderdag 26 Maart omstreeks 16:40 op die hoek van Egypt- en Deacopolisstraat in Rosedale plaasgevind het.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, adjudant-offisier Chris Spies, sê die polisie het gereageer op ’n klagte van ’n man wat gesteek is. “Met hul aankoms is die slagoffer met steekwonde aan die nek en rug aangetref. Hy is om 17:10 deur paramedici op die toneel dood verklaar.
"Die verdagte het van die toneel gevlug en ’n soektog is van stapel gestuur. Die 35-jarige man het homself later by die Pacaltsdorp-polisiestasie oorgegee.”
Volgens Brandon se grootmaakpa, Kerneels Kaptol, wat ongeveer 500 m van hom en sy gesin af woon, het die verdagte by Brandon se huis ingebreek en is daar weg met ’n klomp goed soos gereedskap, ’n rekenaarskerm en musieksentrum. Brandon het na die voorval na die verdagte gaan soek en toe hy hom opspoor, was daar 'n onderonsie.
“Volgens ooggetuies was daar ’n bakleiery. ’n Ding soos ’n saag wat skerp gemaak is, is blykbaar van agter af in Brandon se rug ingedruk. Naomi [sy vrou] was nog by die werk toe dit gebeur het.”
Kaptol sê hulle ken die inbreker. Hy is glo deur ’n bende gedwing om in te breek en die goed te steel. “Ek kan nie glo dat dit gebeur het nie. Brandon was minute voor sy dood nog by my. Die familie is diep geskok en getraumatiseer. Almal het gedink hy is my eie seun. Ek het hom grootgemaak van vyfjarige ouderdom af nadat sy pa ook so vermoor is. Sy ma is ook oorlede.”
Hy sê die polisie het uiteindelik die meeste van die gesteelde goedere terugbesorg.
Volgens Spies bly die verdagte in polisie-aanhouding en sal eersdaags in die hof verskyn. Die ondersoek duur voort.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’