GEORGE NUUS - Die 37-jarige man, wat vroeër die maand in Lawaaikamp met Mandrax-tablette ter waarde van R50 000 betrap is, verskyn môre, Woensdag 18 Junie, weer in die Thembalethu-hof vir ’n formele borgtogaansoek.
Amissi Akanakimana, ’n Burundiese man, het verlede Dinsdag 10 Junie sy eerste verskyning in die hof gemaak nadat hy die vorige dag langs die N2-snelweg in hegtenis geneem is.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, was lede van die Conville-misdaadvoorkomingseenheid omstreeks 09:00 besig met patrollies in Lawaaikamp toe hulle ’n verdagte man met ’n plastieksak in sy besit opmerk.
“Die lede het die man genader en toe hy die polisie gewaar, het hy in ’n poging om arrestasie te ontduik, in die rigting na Thembalethu gevlug. Die lede het hom agternagesit en langs die snelweg ingehaal. Nadat hulle die pakkie deursoek het, het die lede 1 000 Mandrax-tablette binne gevind,” sê Spies.
Die verdagte word aangekla van handel in dwelms.
In die hof op Groot-Brakrivier verskyn vandag nog ’n inwoner van George, ’n Mosambiekse man (38) wat Saterdag 14 Junie met tik ter waarde van R159 000 gevang is.
Hy was onderweg met die dwelms van Kaapstad na George.
Die Valke se span in George het hom op die N2-snelweg naby George vasgetrek.
Die polisie het 'n 1 000 Mandrax-tablette in die sak wat die verdagte weggegooi het, gevind.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’