GEORGE NUUS - 'n George-inwoner se voertuig is omstreeks 17:30 op Dinsdag 22 September buite Victoriabaai beskadig toe klippe vanaf die ou treinbrug op die voertuig gegooi is.
Die inwoner en sy vrou, wat vir anonimiteit gevra het, was op pad huis toe nadat hulle die strand besoek het toe die klippe hul voertuig getref het.
"Op pad strand toe het ek gesien daar lê klippe in die pad naby die brug, maar nie regtig iets daarvan gedink nie. Ons het ook mense daar gesien. Op pad terug, net toe ons onder die brug deur is, hoor ons net 'n slag," vertel hy.
Een van die klippe het die voertuig se agterruit stukkend geslaan, terwyl 'n ander op die kattebak en dak beland het.
Die man beweer die voorval kon ernstige gevolge gehad het indien die klippe die voertuig se voorruit, of hom en sy vrou, getref het.
Volgens Ismail Patel, senior bestuurder van openbare veiligheid by die George-munisipaliteit, val die ou spoorwegbrug en -reserwe onder die eienaarskap en jurisdiksie van Transnet.
"Die instandhouding, bestuur, sekuriteit en enige besluite rakende toegangsbeheer of beperkings tot die brug is aangeleenthede vir Transnet as die verantwoordelike owerheid," het hy gesê.
Hy sê die munisipaliteit se wetstoepassingsbeamptes doen gereeld patrollies in Victoriabaai en tree op waar nodig.
"Hierdie patrollies vorm deel van die munisipaliteit se openbare veiligheids- en misdaadvoorkomingspogings regoor die munisipale gebied."
Patel het gesê die voorval waarin klippe glo vanaf die brug gegooi is, is kommerwekkend. Hy moedig inwoners aan om kriminele voorvalle van dié aard by die polisie aan te meld sodat dit ondersoek en moontlik vervolg kan word.
AO Chris Spies, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het intussen bevestig dat 'n saak van opsetlike saakbeskadiging na aanleiding van die voorval geopen is. Die ondersoek duur voort en niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Die voorval het ook kommer onder inwoners en sake-eienaars in die omgewing laat ontstaan. Die pad word daagliks deur inwoners, hul gaste en kliënte gebruik, en hulle meen voorvalle soos dié kan toerisme in Victoriabaai beïnvloed.
"Dit is 'n geïsoleerde voorval. Geen soortgelyke voorvalle is onlangs by die polisie aangemeld nie," het Spies egter gesê.
Daar is glo daagliks heelwat voetgangerverkeer oor die ou brug, onder meer omdat dit as 'n kortpad na Thembalethu gebruik word. Spies het die publiek aangemoedig om enige verdagte aktiwiteite by die polisie aan te meld of Misdaadstop by 08600 10111 te kontak.
Die voertuig se agterruit is uitgegooi.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’