Update
GEORGE NUUS - Die saak teen Cheslynn Hendricks (33), die man wat daarvan aangekla word dat hy Lauri-Kay Michaels (21) doodgery het, is in die George-landdroshof tot Woensdag 17 September uitgestel.
Regshulp vir die beskuldigde is sedert Maart nog nie afgehandel nie, en buiten die uitslae van die bloedtoetse, is daar steeds uitstaande verklarings.
Volgens Michaels se tannie, Zandra Lewis, is dit die sesde keer dat die saak uitgestel word.
"Die ongeluk wat op 8 Maart plaasgevind het, het Lauri-Kay se lewe geneem. Vandag is die saak wéér uitgestel tot 17 September, dit is al die sesde keer.
Daar is nou 'n kans dat die saak heeltemal van die rol geskrap kan word, maar dit kan eenvoudig nie gebeur nie.
Hy [Hendricks] móét gestraf word vir wat hy gedoen en nagelaat het. Ons vra die gemeenskap om saam met ons te veg vir geregtigheid vir Lauri-Kay.
Dit gaan nie net oor haar nie, maar oor alle families wat al deur sulke tragedies geraak is," sê sy.
Hendricks is kort ná Michaels se dood in Missionstraat, Pacaltsdorp, op 8 Maart in hegtenis geneem. Hy is destyds op borgtog van R1 000 vrygelaat - 'n besluit waarmee Michaels se familie nie saamstem nie.
Hy staan tereg op aanklagte van strafbare manslag, bestuur onder die invloed van alkohol, roekelose en/of nalatige bestuur, sowel as versuim om by die ongelukstoneel te stop.
Volgens getuienis het Michaels saam met vriende huis toe gestap ná 'n rugbywedstryd by die Pacaltsdorp-stadion toe sy deur 'n wit Honda met verlaagde suspensie getref is.
Conville-polisiebeamptes, wat by 'n nabygeleë stopstraat gestaan het, het die voorval gesien en die voertuig agternagesit. Hendricks is later by 'n huis naby die toneel gearresteer.
Nooddienste het vinnig op die toneel opgedaag, maar Michaels is dood voordat sy mediese hulp kon ontvang.
Previous articles:
- Man se saak uitgestel ná jong meisie se dood
- Lauri-Kay Michaels: A young life gone too soon
- Man arrested after youngster dies in vehicle accident
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’