GEORGE NUUS – Die Conville-buurtwag het op Saterdag 14 Februarie ’n gemeenskapsuitreik gehou om bewusmaking oor misdaadbekamping te skep, met spesifieke fokus op die toenemende probleem van kabeldiefstal.
Die doel van die uitreik was ook om inwoners aan te moedig om aktief by die buurtwag betrokke te raak.
Lede van die buurtwag het saam met verskeie rolspelers, waaronder die polisie en verskeie sekuriteitsmaatskappye, aan die geleentheid deelgeneem.
Rudy Lewis, die dryfveer agter die buurtwag, sê die area word tans deur ’n vlaag kabeldiefstal en die steel van koperwaterpype geteister.
Hy voeg by dat dwelm- en alkoholmisbruik, wat dikwels tot geweldsmisdaad lei, ook ’n groeiende probleem in die gemeenskap is.
“Ons wil alle vorme van misdaad hokslaan en doen ’n beroep op inwoners om enige misdaad onmiddellik aan te meld,” sê Lewis.
Inwoners van die Conville-gebied wat by die buurtwag wil aansluit, kan Lewis by 060 961 6163 kontak.
Die bekende oudspeurder Michael Hills was die geleentheidspreker.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’