GEORGE NUUS - Drie beweerde kabeldiewe is Sondag 28 Junie naby Olympia Vaardigheidskool in Pacaltsdorp in hegtenis geneem nadat hulle glo op heterdaad betrap is.
Volgens inligting het die polisie op 'n wenk gereageer, wat tot die arrestasie gelei het.
Daar word beweer dat die verdagtes vir 'n geruime tyd dieselfde modus operandi gebruik het.
Hulle het glo glimbaadjies gedra om as amptelike werkers voor te kom en sodoende nie agterdog te wek terwyl hulle elektriese kabels steel nie.
Hul optrede het na bewering bygedra tot herhaalde kragonderbrekings wat inwoners in die gebied geteister het.
Volgens BA Security se Petrus Grobler het hul patrollielede die mans Sondag omstreeks 14:00 opgemerk waar hulle langs die skool se omheining besig was om te grawe.
Die sekuriteitsmaatskappy het die polisie ontbied, waarna Thys Dithebe en Benny Aau, lede van hul reaksie-eenheid, saam met polisielede op die toneel toegeslaan en die drie verdagtes in hegtenis geneem het.
Gereedskap wat glo gebruik is om die misdaad te pleeg, is ook gekonfiskeer.
Grobler noem dat hulle in die afgelope twee maande met ten minste vier of vyf soortgelyke kabeldiefstalvoorvalle te doen gehad het.
Die sloot is gegrawe om die kabels te verwyder.
’n Gedeelte van die kabel wat uitgegrawe is om te steel.‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’