Advertorial Video
TUINROETE NUUS EN VIDEO - Die Hoër Landbouskool Oakdale, net buite Riversdal, is een van die toonaangewende landbouskole in die land. Die wye vakkeuse bied aan elke seun die geleentheid om sy beroepsveld te verbreed en dit dra vir seker by tot die gewildheid van hierdie hoërskoolkeuse.
Op die Plaas word 'n liefde vir avontuur en landbou gekweek. Die moderne landbou-opleidingsfasiliteite maak voorsiening vir innoverende opleiding in suiwel, skape, vleisbeeste, graan, vrugte, groente asook volstruise.
Hiér word gepraat van broers. Broers vir 'n leeftyd. Hegte vriendskapsbande wat die warmste vure nie kan smelt nie. Leerders van regoor die land lê duisende kilometers af om hul skoolloopbaan op Oakdale voort te sit.
Oakdale raak hulle nuwe tuiste. Dit is die karakter van sterk dissipline, trots, tradisie en samehorigheid wat 456 leerders saambind tot een hegte familie.
Afgesien van die bekende vakke soos fisiese wetenskap, lewenswetenskap, wiskunde, rekeningkunde, ekonomie en toerisme, word drie landbouvakke, nl. landbouwetenskap, landboutegnologie en landboubestuurspraktyk, ook aangebied. Landboukursusse soos die jag-, vleisbees-, skaap-en-wol-, vleisverwerkingskursus en vele meer, onderskei Oakdale van ander skole en sorg vir pure leerplesier.
Elke graad 9-leerder beskik oor sy eie "plasie", 'n 4m x 4m groentetuin, wat hy winsgewend moet bedryf. Die plaaslewe is eiesoortig aan Oakdale en liefde vir die grond, plant en dier word vooropgestel.
Kyk 'n video hieronder
'n Propvol buitemuurse program word tussen studietye ingeruim en dra by dat die duiwel nie 'n vatkans kry nie, want tyd vir ledigheid is daar nie. Leerders neem aan elf sportsoorte deel. Rugby sorg vir die grootste deelname, maar toutrek, jeugskou en meer onlangs bergfietsry en tweekamp, sorg ook vir groot opgewondenheid onder die Bulle.
Die moderne binneshuise hoëprestasie-sportsentrum met biokinetikus, sportwetenskaplike en fisioterapeut, verseker dat elke sportman tot sy volle potensiaal kan ontwikkel en presteer.
Met 154 provinsiale en 15 nasionale sportmanne in 2019, bewys Oakdale dat leerders nie net op nasionale vlak nie, maar ook wêreldwyd kan meeding.
Die koshuislewe is onontbeerlik deel van Oakdale. Dit vergemaklik bywoning van hulpklasse in wiskunde en fisiese wetenskappe. Op akademiese gebied lewer die skool jaarliks uitstekende uitslae.
In die 2019-matriekeksamen het Henk Smit 'n premierstoekenning vir sy uitnemende akademiese prestasie ontvang, met 'n gemiddeld van 94,6 %.
Vakgemiddeldes van vakke soos landboutegnologie, landbouwetenskap en landboubestuurspraktyk is die hoogste in die Wes-Kaap.
"Aandag word gegee aan elke individu in sy totaliteit. Redenaars, debat, VCSV, koor en nog ander, dra by tot kulturele en geestelike vorming. Hier word klem gelê op mentorskap en wedersydse respek. 'n Waardegedrewe leefstyl van dissipline, netheid, toewyding en hoflikheid speel 'n besliste rol. Ons ontvang jong seuns en stuur oor vyf jaar verantwoordelike, goed opgeleide jongmanne die wêreld in," sê mnr. André Latsky, skoolhoof van HLS Oakdale.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'