Advertorial
GEORGE NUUS - Maryke Landman, enigste vrou onder die direkteure van Rauch Gertenbach Prokureurs, het 'n onontbeerlike rol gespeel in die groei van die George-kantoor sedert sy nege jaar gelede as assosiaat by die firma aangesluit het.
Die firma, wat vanjaar sy 100ste bestaansjaar vier, het ook 'n kantoor in Mosselbaai en is een van die mees vertroude name in die regswêreld in die Suid-Kaap.
Toe Landman by Rauch Gertenbach begin werk het, het die kantoor in George 'n skamele drie persone in die likwidasie-afdeling gehad.
Sy was die stukrag agter die ontstaan van 'n aktesafdeling. Mettertyd het die bestorwe boedelafdeling en 'n litigasie-afdeling bygekom tot die kantoor se spektrum van dienste.
Landman, wat die George-kantoor bestuur, sê dit is vandag 'n volwaardige kantoor wat enige diens kan bied.
"Ons personeel staan nou op 15. Ek het 'n ongelooflike span en is baie trots op wat ons die laaste paar jaar vermag het. Hier is regtig niemand wat nie hulle kant bring nie. Ons is beslis 'n groepie op ons eie, al is ons deel van die groter Rauch Gertenbach-span. Ons het voorwaar 'n heerlike kantoor-atmosfeer."
Sy is oorspronklik van Queenstown in die Oos-Kaap waar sy in 1987 aan Hoërskool Hangklip gematrikuleer het. Na haar studies aan die Universiteit van die Vrystaat, het sy vir ses jaar by die Aktekantoor gewerk en eers daarna haar klerkskap by Tim du Toit Prokureurs in Johannesburg gedoen.
Nadat sy en haar gesin in 2000 na George verhuis het, voltooi sy haar klerkskap by Stadler & Swart Prokureurs in George. 'n Jaar later, op 30-jarige ouderdom, word sy toegelaat as prokureur, transportbesorger en notaris.
Sy spesialiseer in aktes en insolvensies, maar is ook betrokke by boedels en testamente.
"Ek doen baie ontwikkelingswerk en geniet dit ongelooflik baie. Dit is egter ook vir my heerlik om met 'eerste keer'-kopers te werk en die proses vir hulle te verduidelik en dit vir hulle so pynloos as moontlik te maak. Ek hou daarvan om 'n pad te stap met my kliënte en ons firma kan letterlik met enige probleem help."
Vir meer inligting oor Rauch Gertenbach se dienste, skakel Maryke Landman by 044 601 9900. Adres: Laché House, Yorkstraat 120, George.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'