Sponsored Content
SUID-KAAP SAKENUUS - Oakdale is landwyd bekend vir sy leerderprestasies en unieke karakter van trots, dissipline en samehorigheid. Leerders van so ver as Brits, Kimberley, Lutzville, Uitenhage, Namibië, Humansdorp, Malmesbury en Kaapstad maak Oakdale-koshuise hul tuiste vir die beste vyf jaar van hul lewe.
Oakdale is meer as net 'n skool - dit verleen betekenis, koers en selfwaarde aan 463 seuns wat skouer aan skouer mans word.
Hier word daarna gestreef om afgeronde en gebalanseerde jong mans die wêreld in te stuur. In die Wes-Kaap het geen skool in 2018 'n groter toename getoon in die persentasie kandidate wat toegang tot Baccalaureus-graadstudies verkry het as Oakdale nie.
Wat akademiese uitnemendheid betref, is Oakdale vir 2018 op die Wes-Kaapse Top 20-lys in die 16de posisie geplaas - een van net vyf skole op dié lys by wie Afrikaans die primêre taal van onderrig is.
Om verskeie redes is dit nie 'n geringe prestasie nie. Agt matrikulante slaag die senior sertifikaat-eksamen van 2018 met 'n A-gemiddeld.
Oakdale het in hiérdie eksamen nasionaal die hoogste vakgemiddelde in landboutegnologie, landboubestuurspraktyk, asook landbouwetenskap behaal.
Dit is 'n volstruispluim in die hoed van die ganse personeel dat Oakdale vir die afgelope 22 jaar 'n foutlose matriekslaagsyfer handhaaf. In 2018 het 98,7% van die graad 12-leerders matrikulasievrystelling verwerf. So versterk Oakdale ook die intellektuele kapasiteit van die land se volgende geslag akademici, sportlui en landbouers.
Hoewel Oakdale 'n landbouskool is, bied die omvattende vakkeuse en buitemuurse aktiwiteite leerders toegang tot enige beroep en nering onder die son, hetsy as rekenmeesters, regslui, wetenskaplikes, veeartse, dokters, kunstenaars, sangers en ja, ook rugbyspelers en boere.
Sportgeriewe vergelyk met die bestes in die land.
Sterk klem word daarop gelê dat leerders hul sport moet geniet sodat die beginsel van gesonde sportmangees gevestig word. Oakdale-koshuise bied leerders onmiddellike toegang tot alle sportgeriewe wat die ultramoderne binnenshuise sportsentrum insluit.
Alle sportsoorte word professioneel afgerig. Sportspanne ding teen die grootste skole in die land mee. Oakdalers kry ook blootstelling by nasionale toernooie en SA-byeenkomste soos die Wildeklawer-rugbytoernooi. Honderd een-en-twintig provinsiale sportmanne het in 2018 diep spore op Oakdale getrap.
Leerders is gefokus op uitdagings, asook hul vermoë om leierskap verantwoordelik tydens enige toer of kursus te demonstreer. Dit is geleenthede soos dié waartydens leerders hulself in toenemende mate ontdek.
Op Oakdale kan seuns nog seuns wees en in die rivierpoele van die bekende Donkerbos baljaar. Hier word nie net talente in kultuur ontdek nie, maar ook liefde en respek vir die beoefening daarvan geskep, en daarmee saam waardering vir die talente van ander. Klem word gelê op respek, vriendelikheid, netheid en trots as deel van normale menswees.
'n Liefde vir die grond, plant en dier, asook 'n dankbaarheid vir Moeder Aarde word hier gekweek.
Die wetenskaplike benadering, asook topprestasies in landbou dra daartoe by dat leerders jaarliks vir verskeie beurse in landbou- en ingenieurstudierigtings aan tersiêre instansies kwalifiseer.
Elke nuwe generasie is 'n voortsetting van 'n jarelange tradisie wat homself tog deurlopend vernuwe en ontwikkel ten einde relevant en betekenisvol te bly in die hier, die nou en die toekoms.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'