Entrepreneurskap ontwikkeling, om sodoende werk te skep, was 'n groot prioriteit vir die jaar. Opleiding is aan 'n groep entrepreneurs verskaf en opgevolg met 'n mentorskap program. Die sakekamer het ook hande gevat met soortgelyke projekte wat deur die George-munisipaliteit aangebied is.
Die affiliasie met die AHI het die sakekamer toegang verleen tot nasionale en internasionale besigheidsgeleenthede. Hierdeur is daar ook toegang verkry tot BUSA (Business Unit South Africa). Die aktiewe betrokkenheid by EDPWC (Economic Development Partners – Western Cape) asook SCBP (Southern Cape Business Partners) het ons toegang gegee tot besigheidsontwikkeling in die hele Wes-Kaap.
Die samewerking tussen die George Sakekamer, Thembalethu Business Partners, George-munisipaliteit asook opleidingsinstansies soos NMMU en Suikaap Kollege het besonder gegroei deur die jaar en kan die nuwe eenheid nou saamwerk om George as die voorkeur bestemming in Suid Afrika te vestig vir besigheid, kwaliteit opleiding , effektiewe plaaslike regering, goeie sportgeriewe, goeie skole, en ons beeldskone natuur as bonus vir toerisme.
Die George Sakekamer besef dat 2014 net groter vereistes aan ons gaan stel. As die spreekbuis vir besigheid in George gaan daar besonder klem geplaas word op inligting en statistieke om ons lede in staat te stel om goeie sake in George te doen en ook om besigheide volhoubaar te laat groei.
Die jaar 2014 is verklaar as die Jaar van die Entrepreneur en verskeie aktiwiteite saam met George Munisipaliteit is beplan. Opleiding, mentorskappe , markgeleenthede, toegang tot besigheid, besigheidsadvies, ens. gaan regdeur die jaar plaasvind met 'n hoogtepunt in die tweede helfde van volgende jaar waarby die hele gemeenskap betrek gaan word. Werkskepping is 'n gesamentlike verantwoordelik en daarwerklike aksies sal geneem moet word om die 27% werkloosheid onder die jeug van George aan te spreek.
Namens myself en die uitvoerende bestuur van die George Sakekamer wil ek al ons lede hartlik bedank vir hulle verbintenis tot die sakekamer wat dit laat groei het tot die grootste in die Weskaap. Ons strate is vol vakansiegangers en ons verwelkom julle in George. Julle besigheid is baie belangrik vir ons plaaslike ekonomie en word waardeer. Geniet julle verblyf in ons area.
Ek wil van die geleentheid gebruik maar om almal 'n Geseende Kerstyd en 'n wonderlike 2014 toe te wens. Mag die gees van samewerking vir ons almal vrugte afwerp.
Lynette Francis van Praat Saam en die paneel wat in Oktober aan 'n direkte entrepreneurskap-gesprek op RSG deelgeneem het is van links: Trevor Botha (George se munisipale bestuurder), dr. Willie Cilliers (president van die George-sakekamer), dr. Christo van der Reede (uitvoerende hoof van die AHI) en dr. Johan Louw (fasiliteerder vir entrepreneurskapsopleiding vir die AHI).
Artikel: Dr. Willie Cilliers, President – George Sakekamer
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'