SAKE-NUUS - Optimum Finansiële Dienste Groep en Currencies Direct het tydens 'n ekonomiese seminaar, 'n gesamentlike poging aangebied om die positiewe ekonomiese tekens in Suid-Afrika uit te wys.
Hierdie ekonomiese seminaar het op 19 Mei by Surval Boutique Olive Estate naby Oudtshoorn plaasgevind.
Tydens die geleentheid het die bekroonde ekonoom, dr. Roelof Botha, lig gewerp op die vooruitsigte vir volgehoue groei wat die paradigma skuif in die ekonomiese beleid het na groter samewerking met die privaat sektor.
Volgens Botha gaan dit baie beter met Suid-Afrika se ekonomie as wat daar in die koerante gelees word.
"Daar is stadig maar seker besig om geweldig baie geld in die infrastruktuur in te beweeg. Suid-Afrika is nie 'n Mickey Mouse-ekonomie nie, ons is een van die 35 grootste ekonomieë in die wêreld met diverse opkomende markte," het Botha gesê.
Dr. Roelof Botha
Dr. Roelof Botha is 'n Suid-Afrikaanse ekonoom met meer as 40 jaar ondervinding. Maatskappye en organisasies gebruik sy ervaring om belangrike makro-ekonomiese en sosio-politieke tendense in die Suid-Afrikaanse mark te analiseer.
Botha, wat onder andere as ekonomiese beleidsadviseur by die nasionale tesourie gedien het, is ook betrokke by verskeie universiteite as senior ekonomiese lektor. Hy dien tans as ekonomiese raadgewer van die Optimum Finansiële Dienste Groep en skryf ook die rubriek The Bright Side, wat deur Currencies Direct uitgegee word.
Positief oor Suid-Afrika se ekonomie
In sy toespraak noem Botha dat Suid-Afrika 'n V-vormige herstel toon na die Covid-19-inperking en dat die landbou- en mynbou-industrie Suid-Afrika deur dié moeilike tyd gedra het. Volgens Botha het die landbou-industrie tans naby aan een miljoen mense in diens.
"Uitvoere in die eerste kwartaal van 2022 het die beste rekord van alle tye behaal. Daar behoort R40 miljard ekstra in Suid-Afrika in te kom voor die einde van die jaar as gevolg van uitvoere.
"Minister van finansies, Enoch Godongwana, behoort baie tevrede te wees met hierdie syfer," het Botha gesê.
Hy het ook verder vertel dat hy baie positief en optimisties is oor die ekonomie van Suid-Afrika en dat indien Suid-Afrika die korrekte beleid handhaaf, ons baie probleme kan oplos. "Jy kan net na die data kyk om dit te bevestig."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'