Sponsored Content
SAKENUUS - Die egskeidingsproses word begin deur die betekening van ‘n dagvaarding op die Verweerder.
Die betekening van ‘n dagvaarding is oor die algemeen ‘n redelike eenvoudige proses, maar komplikasies kan egter ontstaan wanneer dit nie aan die Eiser bekend is waar die Verweerder hom of haarself bevind, of waar hul woon/werk buite die grense van die Republiek nie.
Suid Afrikaanse wetgewing maak uitdruklik voorsiening dat ‘n dagvaarding gebaseer op ‘n egskeiding persoonlik op ‘n Verweerder beteken moet word, omrede hierdie dagvaarding ‘n verandering in ‘n persoon se status kan meebring (hul huwelikstatus van getroud na ongetroud).
Slegs wanneer ‘n Eiser alle moontlike bronne uitgeput het om die Verweerder op te spoor om die dagvaarding persoonlik te beteken, en die pogings vrugteloos blyk te wees, kan ander alternatiewe opsies oorweeg word.
Die alternatiewe opsies tot litigante se beskikking is vervangende betekening, ediktale sitasie, of ‘n kombinasie van beide.
Wat is Vervangende Betekening en Ediktale Sitasie?
Vervangende Betekening
Vervangende betekening is ‘n proses waar die Eiser, deur middel van ‘n aansoek, die hof nader gebaseer op die feit dat die Verweerder nie opgespoor kon word nie, of dat die Verweerder die persoonlike betekening van die dagvaarding ontduik.
Die reëls wat verrigtinge in die Landdros – en Hooggeregshowe reguleer, maak dit egter vir die Eiser moontlik om die hof te nader deur middel van ‘n Ex Parte aansoek, hierdie aansoek word gebring sonder om kennisgewing aan die Verweerder te gee, en die hof kan verlof verleen om alternatiewe metodes te gebruik om die dagvaarding te beteken.
Die Eiser sal aan die hof moet bewys dat alle moontlike stappe geneem is om die Verweerder op te spoor en dat persoonlike betekening nie moontlik is nie. Indien die hof tevrede is dat die Eiser wel alle stappe geneem het, kan die hof beveel dat die betekening van die dagvaarding deur middel ‘n WhatsApp, E-pos, koerantplasing, Instagram, Facebook of enige ander metode wat die hof as aanvaarbaar beskou, mag geskied.
Ediktale Sitasie
Indien ‘n Verweerder buite die grense van Suid Afrika woon, kan die Eiser die hof nader om toestemming te verleen om die dagvaarding te beteken deur middel van ediktale sitasie. Hierdie proses behels die gebruik van ‘n korrespondent, soortgelyk aan die Suid-Afrikaanse Balju om die nodige betekening te doen in die land waar die Verweerder homself bevind.
Die sitasie en verklaring (dagvaarding) moet met vertaalde weergawes van die dokumente in die land se amptelike taal vergesel word.
Die aansoek tot ediktale sitasie, volg dieselfde ex parte proses, as vervangende betekening.
Indien die hof die aansoek tot ediktale sitasie toestaan en die dagvaarding suksesvol beteken is, sal die verweerder 30 dae hê om deur middel van ‘n Kennisgewing van Voorneme om te verdedig, die dagvaarding teë te staan.
Kombinasie van Vervangende Betekening en Ediktale Sitasie
Waar Verweerders hulself buite Suid Afrika se landgrense bevind en hulle nie opgespoor kan word nie, kan Eisers ook gebruik maak van ‘n kombinasie van vervangende betekening en ediktal sitasie.
Die Eiser sal die hof in hierdie geval ook moet oortuig dat die nodige ondersoek ingestel was en dat alle redelike stappe wat geneem is om die Verweerder op te spoor, onsuksesvol was. Die hof kan dan ‘n bevel uitreik dat hierdie kombinasie toegepas kan word om die dagvaarding op die Verweerder te beteken.
Gevolgtrekking
Ons leef in ‘n nuwe era waar mense regoor die wêreld met sosiale media en/of ander elektroniese metodes verbind word. Die Howe het, alhoewel bloot as ‘n alternatief tot die ou vasgestelde reëls, voorsiening gemaak vir alternatiewe metodes van betekening wat gebruik kan word om sodoende by die steeds veranderende wêreld aan te pas.
Die voormelde beginsels vind nie net toepassing in egskeidingsverrigtinge nie, maar ook in algemene litigasie. Indien u sukkel om ‘n dagvaarding op u eggenoot óf daardie ontwykende skuldenaar te beteken, kan ons kantoor u behulpsaam wees daarmee.
Artikel deur Ruben Maritz, Assosiaat (LLB)
Kontak gerus vir Ruben, ruben@rgprok.com, of 044 601 9900, indien u enige navrae hierin het. www.rgprok.co.za
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'