Advertorial
GEORGE NUUS - Met meer as 20 jaar ondervinding as aktebesorger het Dirk Schoeman, senior assosiaat in die aktesafdeling van Rauch Gertenbach se George-kantoor, wye spesialiskennis opgedoen in hierdie veld.
Dit stel hom in staat om sy kliënte te bedien met 'n diepgaande begrip van beide die tegniese en praktiese implikasies gepaardgaande met eiendomstransaksies.
Dirk het in Januarie 2021 amptelik by Rauch Gertenbach se George-tak aangesluit. Hy en sy gesin het van Bloemfontein verhuis waar hy vir 16 jaar sy eie firma, Schoeman Prokureurs, gehad het.
"Dit was 'n voorreg om by so 'n tradisioneel dinamiese en bekende firma die geleentheid te kry om na die Tuinroete te kon skuif," sê Schoeman.
Hy het sy B Iuris-graad in 1993 en LLB in 1995 aan die Universiteit van die Vrystaat (UVS) verwerf en daarna begin werk as klerk by Symington de Kok Prokureurs. Hy is toegelaat as prokureur, notaris en transportbesorger in Bloemfontein in 1997.
Vandaar verhuis hy na Kroonstad waar hy in vennootskap gaan en sy paaie kruis met Barend Kruger, een van Rauch Gertenbach se direkteure. In 2006 maak hy Bloemfontein sy nuwe tuiste waar hy sy eie firma open en as Schoeman Prokureurs praktiseer tot met sy koms na George.
By Rauch Gertenbach is hy belas met eiendomstransaksies en doen hy hoofsaaklik aktes en notariële regswerk. Hy adviseer ook kliënte oor testamente en boedelbeplanning.
Schoeman sê die werk is soms baie uitdagend. "n Mens doen in die meeste gevalle baie meer as net gewoon regswerk. Elke transaksie is uniek en elke party daarby betrokke, anders. Dit is dus hierin wat ek bevrediging kry - deur om die vertroue wat mense en kliënte in my stel te respekteer en my werk so te doen dat elke party se verwagting bevredig word. Mense het waardering vir prokureurs met integriteit en wat elke persoon wat by hom/haar instap, met respek behandel."
Rauch Gertenbach is vanjaar 100 jaar oud en spog met 'n ryk geskiedenis en tradisie. Die firma het homself onderskei met professionaliteit en kwaliteit diens.
- Skakel Dirk Schoeman by 044 601 9900, uitbreiding 2.
- Adres: Laché House, Yorkstraat 120, George
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'