Volgens Pieter-Matt Stemmet, voorsitter van die Skouvereniging, is die belangstelling in vanjaar se skou verblydend.
"’n Totaal van 119 perde is hierdie jaar ingeskryf in verskillende kategorieë, die budgieskou, met 306 inskrywings is opgegradeer tot ‘n B-klas skou en die hondeskou, veral die swart boerboele het baie aandag getrek."
Die Uniondale Landbouskou is veral bekend vir die verskillende perde-items en inskrywings is van regoor die land ontvang.
Stemmet sê dat hulle baie ingenome is met die besoekersgetalle en die vertoning van die gaskunstenaar, Wikus van der Merwe, is deur meer as 200 mense bygewoon.
Die fees het afgeskop met ‘n ete vir alle uitstallers en borge op Donderdagaand 29 September en is met ‘n "Steak" braai van die plaaslike Lions klub op Saterdagaand, afgesluit.
Verskeidenheid uitstallers
Die 25 binnenshuise- en 35 opeluguitstallers het gesorg dat besoekers genoeg gehad het om hulle mee besig te hou. Daar was ‘n verskeidenheid kosstalletjies, handewerk, kleding en voertuie om te geniet en besigtig en heelparty aktiwiteite is vir die kinders aangebied.
Die 4x4 kompetisie wat Saterdag tussen 09:00 en 15:00 aangebied is het sommer vroeg vir opwinding gesorg toe een van die deelnemers homself misgis het en sy voertuig omgegooi het by die eerste hindernis.
Die Uniondale Landbouskou is een van die dorp se hoogtepunte en die organiseerders hoop om met volgende jaar se skou nog meer belangstelling te lok.
"Ons is nog nie doodseker van volgende jaar se datum nie, maar dit sal weer in die skoolvakansie val sodat meer mense tyd kry om ons te kom besoek"
SIEN NOG FOTO'S HIER.
Stof en rook vul die lug terwyl ‘n steil helling verower word in die 4x4 kompetisie.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS