Gallery
GEORGE NUUS - Dat mense uitgehonger was vir skou hou, het Saterdag 27 Augustus geblyk toe mense in groot getalle by die George-landbouskou opgedaag het. Die skou het op Donderdag 25 Augustus begin en Sondag ten einde geloop.
As gevolg van die Covid-19-situasie het die skou laas in 2019 plaasgevind.
Die hekke het vroeg Saterdagoggend geopen en dit was opmerklik hoe mense van kort voor 10:00 begin opdaag het.
Dit was moontlik omdat mense eers na die rugbytoets tussen Suid-Afrika en Australië op TV gekyk het. Die Springbokke se nederlaag het egter nie die skoupret bederf nie en jonk en oud het hul gate uit geniet.
Daar was iets vir almal. Sowat 170 uitstallers het deelgeneem en bekende kunstenaars soos Caroline Grace, Michael Lindt, Byron Minnie, Early B en Fatman het opgetree.
Ongelukkig kon daar geen beeste wees as gevolg van die bek-en-klouseer-situasie.
PHOTO GALLERY: George-landbouskou goed ondersteun
Trekkers van die modernde tyd en van vergange se dae het skougangers laat stilstaan.
Van die ander diere wat wel op skou was het groot aftrek gekry. Die perde was baie gewild en so ook die pluimveeafdeling. Die konyne en hase het ook besoekers beïndruk.
Natuurlik was daar trekkers. Daar was moderne en veteraantrekkers. Iets wat vir groot opwinding gesorg het was toe dogters- en seunstoutrekspanne kragte teen 'n trekker gemeet het.
André Barnard was aan die stuur van die Massey Ferguson 245. Die dogters was eerste aan die beurt en dit was omtrent 'n getrekkery. Onder aanmoediging van skougangers het die dogters hakke ingeskop en dit was tyd vir sterkstaan.
Knortjorre het ook Saterdagoggend gewys waartoe hulle in staat is en mense wat hou van spoed het in verwondering gestaan oor hoe vinnig die knortjorre kan jaag.
Sondag, op die laaste dag van die skou, was daar 'n lof en prysgeleentheid.
Corné Botha, skouvoorsitter, het Maandag gesê vanjaar se skou is deur sowat 9 000 mense bygewoon. Die skou gaan beslis weer aanstaande jaar plaasvind en wel van 24 Augustus tot 27 Augustus.
Volgens hom was vanjaar se skou 'n groot sukses en die organiseerders is tevrede. "Ons bedank die publiek vir hul ondersteuning."
Die plluimveeafdelig het baie aandag getrek. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'