GEORGE NUUS - Boere in die Suid-Kaap is aan die voorpunt wanneer dit kom by die gebruik van moderne en volhoubare landboumetodes.
Bossie Terblanche, voorsitter van die Outeniqualand-boerevereniging, sê om mededingend te bly, het 'n kommersiële boer nie 'n ander keuse nie as om bewaringslandbou toe te pas en dit met tegnologie en presisielandbou te kombineer.
Boere in die streek pas al lankal "groen" boerderymetodes toe.
"Dit gaan oor die vermindering van emissies en besoedeling en om jou natuurlike grondlewe terug te bring deur minder chemikalieë of gifstowwe te spuit, en minder water en krag te gebruik. In die melkbedryf byvoorbeeld, het ons weidingspraktyke aangepas om op 'n natuurlike manier stikstof in die grond terug te sit deur sekere gewasse aan te plant en so die gebruik van chemiese kunsmis te verminder."
Hy sê oor die hele landbouspektrum in die streek is daar tans 'n geweldige groot beweging na sonkrag. "Dit maak net sin in die lig van die huidige kragpryse, en dit help om emissies te verminder."
Hommeltuie
Hommeltuie vir gifstofbespuitings en kunsmistoediening word veral deur groenteboere gebruik. Dit skakel trekkers en diesel uit. Sekere gewasse wat bo-op die grond kan ontkiem, kan ook met 'n hommeltuig gesaai word.
Hommeltuie bespaar tyd, is goedkoper om te onderhou en meer gerieflik as trekkers en selflopergifspuite. Die menslike fout-faktor word ook uitgeskakel, want die oppervlak wat bespuit moet word, word presies geteiken danksy GPS-koördinate.
Uitstekende plantbedekking word verkry weens die turbulensie van die skroef wat die spuitstof fisies in die plante in waai.
Ander tegnologies gevorderde toerusting wat 'n groot deel van boerdery in die Suid-Kaap uitmaak, is elektroniese sondes (probes), sê Terblanche.
Dit meet grondstatus op sekere dieptes en werk digitaal uit hoeveel water toegedien moet word volgens die weervoorspelling - die temperatuur, wind en ander plantstresfaktore. So word oorbesproeiing en water- en kragvermorsing vermy.
Uitstekende plantbedekking word verkry. Foto verskaf
Satelliete vir die saaibedryf
In die saaibedryf word satelliete gebruik wat 'n planter in staat stel om elektronies self te bepaal hoeveel kunsmis of saad in die grond gesit moet word, gebaseer op grondontledings wat die boer gedoen en oeste wat hy in die verlede afgehaal het.
"Ons gifspuite het elektroniese infrarooi-sensors op wat die bladgroen in plante optel. Die spuit sal selektief spuit volgens die plant se bladgroen. Dit verminder chemiese gebruik met omtrent 40%."
Oesskattings en -bepalings word deesdae ook met satellietfoto's of hommeltuie gedoen deur die bladgroen en hoeveelheid plante of digtheid daarvan te bepaal. Bemesting kan byvoorbeeld daarvolgens aangepas word.
Bossie Terblanche
GlobalGAP-sertifisering
Groenteboere word een keer per jaar geoudit vir voldoening aan GlobalGAP-sertifisering. "Die regulasies rondom normale groenteproduksie en alle varsproduktemarkte vereis van groenteboere om hierdie sertifisering te hê, wat dieselfde is wat vir uitvoere vereis word. Boere word geoudit op onder meer watergebruik, waterkwaliteitbeheer, gebruik van chemikalieë en hantering van spuitstowwe."
Boere word ook onderwerp aan koolstofoudits wat fokus op die gebruik van fossielbrandstowwe, sonkrag of alternatiewe energie-bronne asook hoe die boer sy eie afvalstowwe hanteer.
"Ons in Suid-Afrika word maar net meer gedruk na volhoubaarheid omdat ons geen staatshulp of subsidies ontvang nie. In Europa word jy per hektaar betaal vir lande waarop nie geboer word nie om dit na natuurlike weiding te laat terugkeer. Maar ons het nie daardie subsidies nie. Hier moet jy dit uit eie inisiatief doen. Volhoubaarheid is wat elke ou toepas vir sy eie voortbestaan."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’