Gallery
LANDBOU NUUS - Die belangrike rol van agriwerkers is in die kollig geplaas by die Tuinroete-streekgala van die Wes-Kaapse Prestige Agri-toekennings wat op Vrydag 8 Augustus by die Oppie Plaas-venue gehou is. Lewayne Fortuin van die plaas Kykbo in Glentana is as die streek se Agriwerker van die Jaar aangewys.
Die gasspreker, dr. Jacques van Rooyen van die Universiteit van Pretoria se Veeartsenyfakulteit, het in sy toespraak die noodsaaklikheid van agriwerkers vir die landbou beklemtoon en gesê hulle deel in die bou van die toekoms van die sektor.
Van Rooyen het meer vertel van die Herding 4 Health-model wat sy breinkind is en wat in verskeie buurlande van Suid-Afrika geïmplementeer is om veeboere te leer hoe om gesonde kuddebestuur toe te pas.
Die program is so suksesvol dat die Botswana-regering nou betrokke raak in pogings om dit verder uit te brei.
Veewagters word opgelei om na boere se kuddes om te sien en risiko's rondom die kudde te bestuur. Die sukses wat behaal word danksy die toetrede van veewagters is 'n bewys van die onontbeerlike rol wat agriwerkers speel, het Van Rooyen gesê. 'n Opleidingsprogram is ook nou ontwikkel om spanleiers op te lei.
Evon Mayekiso, die hooforganiseerder van die Wes-Kaapse departement van landbou, het gesê net meer as 17 400 inskrywings is in die provinsie ontvang - 'n enorme groei sedert die eerste keer toe die kompetisie in 2017 in die Tuinroete in samewerking met die George-landbouskou afgeskop het met slegs 36 inskrywings.
FOTOGALERY: Kollig op agriwerkers van die Tuinroete
Derick Scheepers van die Plaas Herold Afgunst, Voorman van die Jaar, saam met Ben Booysen (landbou-adviseur vir die Tuinroete) en Kim van Niekerk (landbou-adviseur vir die Klein-Karoo: Uniondale-wyk). Foto: Alida de Beer
Vanjaar het die Tuinroete 112 inskrywings ontvang en die mikpunt is om volgende jaar 150 inskrywings te hê.
Die wenners van die onderskeie afdelings is soos volg:
- Algemene werker: Shaun Nobos - Kykbo Boerdery (Glentana)
- Drywer: Damon Abrahams - Zelpy (Waboomskraal)
- Administratiewe personeel: Imameleng Maponopono - PHC (Brandwag)
- Tegniese operateur: Nakhane Ben - PHC (Brandwag)
- Besproeiingspesialis: Isaac Kasi-Ansah - PHC (Brandwag)
- Diereproduksie: Lewayne Fortuin - Kykbo (Glentana)
- Maatskaplike ontwikkeling: Megan Bruintjies - Afgunst (Herold)
- Landbouverwerking: Petrus Roux - PHC (Groeneweide)
- Voorman: Derick Scheepers - Afgunst (Herold)
- Junior bestuur: Ricardo du Preez - Ricas Fruit Farm (Haarlem)
- Middelbestuur: Tiaan Damons - Southern Fruit Farms (Avontuur)
- Beste potensiaal: Michelle Noland (PHC Brandwag)
- Beste presterende plaas: PHC Brandwag
Die wenners dring almal deur na die provinsiale kompetisie. Beoordeling vind in September by die Elsenburg-landbouopleidingsinstituut plaas en die wenners word op Saterdag 1 November tydens 'n provinsiale galageleentheid aangekondig.
Vier van die deelnemers het 'n studiebeurs gewen. Hulle is Lewayne Fortuin, Ricardo du Preez, Tiaan Damons en Michelle Noland.
Michelle Noland van PHC Groeneweide het die prys gewen vir Beste Potensiaal. Sy ontvang haar sertifikaat van Clyde Lamberts, adjunkdirekteur van die Wes-Kaapse departement van landbou - Tuinroete.
Van algemene werker na middelbestuur
Twee middelvlakbestuurders van die plaas Southern Fruit Farms in die Avontuur-distrik het presteer in die afdeling Middelbestuur.
Tiaan Damons, bestuurder van die Welgelegen-afdeling van die plaas, het met die wentrofee weggeloop en Gerald Xhip, bestuurder van die Breëvlei-afdeling, was derde. Damons het ook 'n studiebeurs ontvang.
Die twee is groot vriende en het saam op Southern Fruit Farms grootgeword. Hulle het as algemene werkers op die plaas begin en hulleself opgewerk na bestuursposisies.
Vier deelnemers van PHC, van links, voor: Rosshyn Kees (tweede: voorman) en Imameleng Maponopono (wenner: administratiewe personeel). Agter: Zokwanda Gabani (deelnemersertifikaat: algemene werker) en Cherise Young (naaswenner: middelbestuur).
Impak van kompetisie
Volgens Mayekiso, het 'n onafhanklike evaluering van die Agriwerker-projek getoon dat die kompetisie 'n beduidende impak het op werkers en hul families.
"Dit verhoog hulle eiewaarde en hulle kennis verbreed. Agriwerkers wat aan die kompetisie deelneem, ervaar 'n beter en gesonder gesinslewe.
"Daar is 'n positiewe persepsie in die gemeenskap jeens agriwerkers wat deelneem en daar word na hulle opgesien. Geleenthede vir vaardigheidsontwikkeling word geskep en werkers is meer gemotiveerd."
Die beste presterende plaas kom uit die PHC-stal met hulle plaas Brandwag wat die toekenning opgeraap het. Renier Beetge (links) is die bestuurder. By hom is Gavin Linsley-Noakes, eienaar van PHC. Dit is die vierde keer dat 'n plaas van PHC die toekenning wen.
Dr. Jacques van Rooyen (middel), die gasspreker by Evon Mayekiso van die Wes-Kaapse departement van landbou, en die seremoniemeester, Peter Jaftha van Heartbeat FM.
Ricardo du Preez van Ricas Fruit Farm in Haarlem is die Junior Bestuurder van die Jaar.
Oppie Plaas is ’n mooi venue en deelnemers het ’n heerlike ete geniet.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’