GEORGE NUUS - Die raad van die Outeniqua-landbouskou se planne vir vanjaar se skou, wat van 29 tot 31 Augustus plaasvind, is Dinsdagaand tydens 'n gesellige funksie by die skouterrein bekendgestel.
Corné Botha, die president, het gesê met 'Groei' as hul tema vir 2019, mik die raad om ten minste 1 000 meer besoekers as verlede jaar se 18 000 te lok. Ongeveer 200 uitstallers sal aan die skou deelneem. "Vanjaar se skou gaan 'n grote wees.
Ons fokus veral op plaaslike kunstenaars om vir hulle 'n platform te gee om op te tree, die ovaalbaanwedrenne wat vir 'n tyd lank nie deel was van die skou nie, kom terug, en ons gaan 'n totale nuwe uitleg aan die skouterrein gee."
'n Reuseskuur waar maandelikse veeveilings en die skou se beesafdeling aangebied sal word, word in samewerking met BKB opgerig met wie die raad 'n nege jaar lange ooreenkoms gesluit het. Verder word Computicket ingebring om kaartjieverkope te vergemaklik.
Die Boerboeldistrikskompetisie is nog 'n nuutjie en benewens die gewone programme vir senior burgers en vroue, gaan die raad in samewerking met Sentraal-Suid Koöperasie 'n spesiale geleentheid vir mans hou in die vorm van 'n manneontbyt.
Van die skou se organiseerders wat gesorg het dat Dinsdagaand se funksie vlot verloop het, van links: Aurora Fourie, Karien Pienaar, Debbie Dirks en Iris Liebenberg. Foto's: Alida de Beer
Die landbouafdeling sal ook weer baie sterk wees en verskeie nasionale kampioenskappe word weer aangebied.
"Om terug te ploeg in die gemeenskap, is die Kretzenshoop Laerskool genooi om koeldrank te verkoop. Ons verskaf die infrastruktuur en koeldrank en die skool kan die wins gebruik om geld in te samel. Die raad het ook met Maggie Jacobs 'n kontrak gesluit om die skoonmaakdienste van die skouterrein te hanteer en so haar eie onderneming, Maggie's Skoonmaakdienste amptelik te loods. Sy sal op 'n permanente basis die dienste op die terrein verskaf."
George se speaker, Gerrit Pretorius het die belangrikheid van landbou beklemtoon en gesê die George-munisipaliteit is trots om as borg by die skou betrokke te wees. "Die munisipaliteit leef mee in u visie en missie," het hy gesê.
Gaste by die bekendstelling het 'n voorsmakie gekry van die kwaliteit van plaaslike kunstenaars wat by die skou te sien sal wees met Maritza, Jonty, Nicole Stofberg en Michael Lindt, seremoniemeester vir die aand, wat musikale vermaak verskaf het.
George-speaker Gerrit Pretorius (middel) was die gasspreker. By hom is Christo Fourie (links), visepresident van die Outeniqua-skougenootskap, en Corné Botha, die president. Foto: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'