MOSSELBAAI NUUS - Die Tuinroete se streekwenners van die Departement van Landbou in die Wes-Kaap se Prestige Landbou-toekennings is Dinsdagaand, 4 Oktober, tydens 'n gala-geleentheid in Mosselbaai bekend gemaak.
Volgens die gemeenskapsontwikkelaar van die Wes-Kaap departement van landbou, Evon Mayekiso, het daar hierdie jaar 15 landbou-distrikte deelgeneem met 1443 deelnemers. Die kompetisie behels 11 kategorieë waarin landbouwerkers uit plase in die streek benoem word.
Al die landbouwerkers wat deelgeneem het, het tydens die toekenningsaand sertifikate ontvang.
Die algehele wenners vir die plaas wat die beste presteer het, is die plaas PHC Brandwag.
Die landbouwerker met die meeste potensiaal, is Davidene Erasmus van Van Greunens-plaas.
Die wenner van die landbouwerker vir 2022-toekenning in die Tuinroete-streek, is Sithembiso Shange van die plaas PHC Groeneweide.
Pryse
Mosselbaai-munisipaliteit se burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé, het die toekenningsaand bygewoon en van die pryse uitgedeel. Hy het beklemtoon dat landbou sekere vaardighede en kennis vereis en dat dit 'n gerespekteerde beroep is wat kos voorsien aan die land. "Volgens ons vooruitsigte, gaan sowat 1.4 miljoen mense hulle in die volgende agt tot 10 jaar in die Wes-Kaap vestig, wat beteken dat voedselproduksie gaan verhoog en sodoende baie werkgeleenthede in die landbou meebring."
Ben Booysen, landbou-raadgewer van die Wes-Kaap se departement van landbou, het van sy lang pad as landbouwerker vertel en hoe hy homself opgewerk het tot waar hy nou is. Hy het die landbouwerkers aangemoedig om trots te wees op die ondervinding en kennis wat hulle het en om nooit op te hou leer nie. "Gryp hierdie geleenthede aan om iets van jouself te maak", was sy boodskap.
Spanpoging
Volgens James Robertson van Rooiheuwel Farms in Klein Brak is die grootste uitdaging wie om te nomineer, want om te boer is ook 'n spanpoging. "Dit bied egter erkenning vir goeie werk en motiveer die ander werkers om harder te werk om vir die volgende kompetisie genomineer te word".
Al die genomineerde landbouwerkers het 'n kontantbedrag ontvang en ook geskenkbewyse van Shoprite wat die hoofborg van die toekennings is. Pieter van Zyl, algehele verkrygingsbestuurder by Freshmark Shoprite, beskryf hul ondersteuning vir hierdie projek soos volg: "Shoprite is maar een van die skakels in die landbou waarde-ketting wat begin in die boorde of op die landerye en eindig op die huisvrou se bord. Die landbouwerkers is nie net die eerste skakel nie, maar ook die anker van die hele ketting. Shoprite is dankbaar vir die geleentheid om te kan teruggee vir die landbou-gemeenskappe wat ons so getrou oor die jare ondersteun het.”
Die wenners van die verskillende kategorieë gaan Woensdag, 12 Oktober teen die wenners van ander streke in die Wes-Kaap kompeteer by die Kromme Rhee opleidingsinstituut naby Stellenbosch.
Die algehele beste presterende landbouwerker vir 2022 in die Wes-Kaap, word op 5 November tydens 'n gala-geleentheid in Stellenbosch bekend gemaak.
Wayne Newman (Shoprite), Henry Meyer (Agri Wes-Kaap), Davidene Erasmus (landbouwerker met die meeste potensiaal), raadsheer Dirk Kotzé en Evon Mayokisa (gemeenskapsontwikkelaar, departement van landbou, Wes-Kaap).
Wayne Newman (Shoprite), Henry Meyer (Agri Wes-Kaap), Cherise Young (PHC Brandwag, as beste presterende plaas), raadsheer Dirk Kotzé en Evon Mayekiso (gemeenskapsontwikkelaar departement van landbou, Wes-Kaap).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'