GEORGE NUUS - Aramex het geskenkboksies vir die agriwerkers geborg wat aan vanjaar se Agriwerker van die jaar-kompetisie deelneem.
Beoordeling in die kompetisie het 'n rukkie gelede in alle erns begin. Die George-landbouskou organiseer jaarliks die kompetisie in die Tuinroete en het vanjaar ook die Klein-Karoo-distrik bygekry.
Christo Fourie, skouvisepresident, sê hulle oorhandig die geskenkbokies aan elke deelnemer net voor hul onderhoude met die beoordelaars.
"Die deelnemers is maar op hulle senuwees en die geskenkies help om hulle op hulle gemak te laat voel. Dit is 'n wonderlike gebaar van Aramex."
Jessica van der Merwe en Monique Barnard van Aramex het betrokke geraak nadat hulle in George Herald van die agriwerkerskompetisie gelees het.
Uit al die deelnemers wat vanjaar beoordeel word, word 75 gekies wat in September tydens 'n spesiale dinee sertifikate van erkenning ontvang. Drie wenners uit elke kategorie word daar aangekondig wat na Stellenbosch gaan vir die provinsiale kompetisie.
"Hulle spandeer vier dae daar om opleiding in hulle veld te kry en ook vir verdere evaluasie deur die departement van landbou, wat die provinsiale wenners aanwys," sê Fourie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'