TUINROETE LANDBOU NUUS - Landbouers moet hul nie aan politieke geraas steur nie en voortgaan om te boer. So het Christo van der Rheede, die nuwe uitvoerende direkteur van Agri SA, Maandag aan George Herald gesê.
Van der Rheede het onlangs die leisels by Omri van Zyl, wat nou aan die hoof van Agri SA Enterprises staan, oorgeneem. Van der Rheede was voorheen die adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA.
In 'n openhartige gesprek het Van der Rheede gepraat oor die uitdagings in landbou en die pad vorentoe. Volgens hom kan verwag word dat die politieke geraas in felheid gaan toeneem in die aanloop tot aanstaande jaar se munisipale verkiesing.
Landbouers moet hulle nie daaraan steur nie en voortgaan om te boer. Dis die werk van georganiseerde landbou om die politieke geraas te hanteer en in die proses hul belange te beskerm.
Uitdagings
Daar is uitdagings en een van die grootste is die onsekere beleidsomgewing. Landbouers weet byvoorbeeld nie waar hulle staan oor 'n moontlike verandering van die grondwet wat voorsiening sal maak vir onteiening sonder vergoeding nie.
Die Covid-19-pandemie het ook 'n negatiewe uitwerking op die wêreldekonomie gehad en Suid-Afrika is dit nie gespaar nie.
Aan die positiewe kant is landbou een van die min bedrywe waar daar altyd 'n behoefte voor gaan wees. Landbou se taak is om te sorg dat mense kos het. Hy sien sy grootste taak om die regering te oortuig dat die land beleidsekerheid nodig het.
"Ons rol is om die ekonomiese realiteite by politici tuis te bring."
Hy glo die regering besef dit reeds en juis die afgelope naweek het 'n paar interessante dinge plaasgevind soos die beskikbaarstelling van staatsgrond. Dit beteken minder klem op onteiening sonder vergoeding.
Die probleem is nie grond nie. Daar is genoeg grond in Suid-Afrika. Hy wil hê dat dit makliker vir nuwe boere gemaak moet word om grond af te koop.
Suid-Kaap
Van der Rheede sien die Suid-Kaap as 'n belangrike gebied in die landbou. Daar word reeds gesien dat al meer van die melkbedryf na die kus skuif. Die Suid-Kaap kan 'n baie groot rol speel in die melk- en kaasbedryf.
Daar kan gekyk word hoe oorskot melk verwerk kan word in poeier en in die mark beskikbaar gestel word. Dit bied geleenthede vir agri-prosessering. Daar is ook die bessiebedryf. Die Suid-Kaap/Oos-Kaap kan hom posisioneer in nisbedrywe.
Sy advies aan landbouers is om hul plase te gaan koop en byvoorbeeld in vennootskappe met hul werkers te gaan.
Hy het benadruk sonder landbou is Suid-Afrika gedoem.
Christo van der Rheede, the newly appointed chief executive of AgriSA, is optimistic about the future of agriculture, as there will always be a need for food. He says farmers should leave the task of dealing with politics and protecting the interests of farmers to organised agricultural structures and concentrate on their daily farming activities. He believes his main task is to convince the government that the country needs policy security.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'