GEORGE NUUS - Storting is almal se probleem!
As jy jou gemors sommer enige plek weggooi sal dit uiteindelik op een of ander manier jou probleem word.
Dit kan jou siek- of doodmaak
Daar is baiekeer gif, ou medisyne, gebreekte glas en ander gevaarlike goed in gestorte rommel, wat veral vir kinders en diere gevaar kan inhou.
Gemors wat in die son lê en bak ontwikkel giftige gasse en bakterieë wat siektes en infeksies kan veroorsaak en jou baie siek of selfs dood kan maak.
Plekke waar rommel lê lok slange en skerpioene wat kan byt of steek, en rotte en insekte wat gevaarlike siektes na mense kan oordra.
Rommel wat in of naby riviere gegooi word, laat nadelige stowwe in die water vry wat mense en diere stroom-af so siek kan maak dat hulle van dehidrasie en koors kan doodgaan.
Dit kan brande veroorsaak
- Rommel wat in die son bak kan so warm word dat dit aan die brand slaan en na huise toe kan versprei. Die rook en gasdampe wat van sulke vure af kom kan skadelik of selfs dodelik wees.
Dit kan stink
- Items wat in riooldreine gegooi word - of verkeerde goed wat in toilette afgespoel word - sal die dreinpype verstop en die riool sal in jou woongebied oorloop.
Dit kan verspoelings veroorsaak
- Gemors wat in stormwaterdreine gegooi word, verstop die pype en reënwater sal in die gebied se strate en eiendom invloei.
Onwettige storting mors geld
- Die skoonmaak van onwettige stortingsterreine mors geld wat vir ander dinge in jou gemeenskap gebruik kon word.
Stortingsterreine bring die waarde van jou eiendom af
As jy eiendom naby onwettige stortingsterreine besit, sal dit moeiliker wees om dit te verkoop en sal die oorhoofse waarde van die eiendom verminder.
Jy kan tronk toe gaan
- As jy gevang word vir onwettige storting of selfs rommelstrooi, kan jy ’n boete opgelê word. Indien jy nie die boete kan betaal nie, kan jy tronk toe gaan. Daar word oorweeg om maatreëls soos versteekte kameras in plek te sit om mense te vang wat in die nag onwettig rommel stort.
Jy kan ’n verskil maak
Moenie rommel strooi nie
- Hou jou kospakkies, sigaretstompies en ander gemors by jou totdat jy by ’n asblik uitkom en gooi dit in die blik, of hou dit tot by die huis waar jy dit in jou drom kan weggooi.
Hou jou vullis by die huis tot en met opteldag
- Vullis word een keer per week in jou woonbuurt opgetel (sien skedule hieronder). Plaas asseblief jou vullis in vullissakke en hou die sakke by jou huis tot en met opteldag.
- Plaas tuinafval in groen sakke sodat dit afsonderlik opgetel kan word vir komposmaking.
- Plaas vullissakke op die sypaadjie buite jou huis teen 07:30 op opteldag.
- Om te verhoed dat jou sakke oornag stukkend geskeur word, moet dit asseblief nie die aand voor die tyd uitsit nie.
Vind jou optelpunt
- As jy in ’n gebied bly waar groot vullistrokke nie tot by jou huis kan ry nie, vind by jou raadslid of gemeenskap uit waar die naaste optelpunt is. Op opteldag ry bakkies in hierdie gebiede in en tel by hierdie punte op.
- Indien daar nie ’n optelpunt binne redelike loopafstand van jou woonplek is nie, vra asseblief jou raadslid om by Omgewingsdienste te vra dat so ’n plek geskep word.
Maak dit toe
- Probeer om jou vol vullissakke in iets met ‘n deksel - soos ’n sterk kartonboks, houtboks of baksteenstruktuur - toe te maak om slegte reuke in te hou en diere uit te hou.
Maak ’n plan met die groot goed
Boumateriaal en items wat nie in swartsakke pas nie, moet na die munisipale stortingsterrein op die R102 (lughawepad) geneem word. Maak ’n plan met vriende of bure om julle groot goed saam in een rit te neem.
Dooie diere
Moet asseblief nie dooie diere saam met vullissakke uitsit of iewers gaan weggooi nie.
Skakel die Tuinroete DBV by 044 878 1990. Hulle sal die karkas oplaai en teen ’n fooi korrek daarvan ontslae raak.
Meld dooie diere op die N2 by Sanral aan by 082 553 4878.
Rapporteer onwettige storting
Indien jy weet wie onwettig stort, rapporteer hulle by 044 801 6350 of [email protected] of 044 801 6300 (n/u).
Inligting wat die saak vir ’n waarskuwing of boete sal versterk: beskrywing van die voertuig en/of registrasienommer, adres van die beweerde oortreder, tipe afval wat gestort is en waar dit gestort is. ’n Selfoonfoto van die storting in aksie sal baie help maar is nie noodsaaklik nie.
Meld plekke aan waar daar onwettig gestort is, by 044 802 2900 of 044 801 6300 (n/u).
Opteldae vir vullissakke
Maandag: Blanco, Riverlea, Heatherpark, Heatherlands, Glen Barrie, Kraaibosch, Groenkloof, Blue Mountain Village, Heroldsbaai, Victoriabaai, Rondevlei-gebied (George-kant)
Dinsdag: Le Vallia, Rosemoor, Conville, Protea Park, Parkdene, Ballotsview, Borcherds, Lawaaikamp, Thembalethu, Wildernis, Constantia Kloof, Kleinkrantz
Woensdag: Camphersdrift, Fernridge, Denneoord, Bo-dorp, Blommekloof, Tweerivieren, Hoogekraal, Hoekwil, Touwsranten-plaasgebiede
Donderdag: Wildernishoogte, Dormehlsdrift, George-Suid, Le Grand, Bos en Dal, Groeneweidepark, Sinksabrug, Herold, Geelhoutboom, Eselsjacht, Hansmoeskraal, Jonkershoek, Rooirivierrif, Pacaltsdorp, Rosedale, Waboomskraal, Touwsranten-dorpie.
Vrydag: Glenwood, Loeriepark, Eden George, Genevafontein, Denver Park, Bergsig, Oostelike uitbreidings
Besighede: Maandag, Woensdag en Vrydag
Bel vinnig:
- Meld mense wat onwettig stort by Wetstoepassing aan: 044 801 6350 of 044 801 6300 (n/u).
- Meld plekke waar daar onwettig gestort is by Omgewingsdienste aan: 044 802 2900 of 044 801 6300 (n/u).
- Laat dooie diere verwyder deur die DBV te skakel: 044 878 1990
- Rapporteer dooie diere op die N2 aan vir optel deur Sanral: 082 553 4878.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’