GEORGE NUUS - Wonder jy ooit hoekom daar meer oorstromings en rioolstortings in sekere areas voorkom as in ander?
In die meeste gevalle kan die probleem direk verbind word met wat in die drein gegooi word en verstoppings veroorsaak.
George-munisipaliteit, wat verantwoordelik is vir die instandhouding van alle infrastruktuur, insluitend die water- en rioolnetwerke, vra die samewerking van die publiek om verstoppings so ver moontlik te voorkom.
Verkeerde goed
Verkeerde goed wat in toilette afgespoel of in mangate en stormwaterafvoerpype gegooi word, is die grootste oorsaak van riool wat oorloop, verstopte dreine en oorstromings in beboude areas.
Probleemitems sluit in: kosverpakking en koeldrankbottels in stormwatersisteme, groot items soos dooie diere en meubels in mangate en afvoerpype, asook babadoeke, sanitêre produkte en koerantpapier wat in toilette afgespoel word.
Klein gat, groot probleem
Goed verdwyn nie net omdat jy dit in die toilet afgespoel het of in ’n dreingat gegooi het nie!
Inteendeel, ongepaste items in die dreine sal waarskynlik ’n baie groter, stinkende probleem word as wat die item wat jy wou weggooi, ooit was.
Dink daaroor: Sanitêre doekies en tampons is klein items, maar dit swel geweldig in water. Dit kan ’n groot rioolstorting in jou agterplaas veroorsaak as dit selfs net een pyp verstop.
Pype loop oral
Oral in beboude gebiede loop daar ondergrondse pypnetwerke, net soos die strate bo die grond - ook daar waar jy bly.
Dit beteken vuilgoed wat in ’n drein ver van jou huis in ’n gat afgegooi is, kan nog steeds probleme by jou eie huis veroorsaak, of daar waar jy inkopies doen, werk of stap. Die hele gemeenskap trek voordeel daaruit as die pype oral skoon is.
Vullis verstop die sisteem
Niks solieds is veronderstel om by ’n dreinpyp, toilet of mangat af te gaan nie, maak nie saak hoe groot of klein dit is nie.
Groot goed sal maklik in ’n pyp vassteek, maar ’n hele klomp klein goedjies bou uiteindelik ook op en kan ’n drein verstop.
Ernstige gevolge
Verstopte stormwaterdreine kan oorstromings veroorsaak. Oorstromings kan huise, motors en eiendom beskadig en mense kan selfs in vloedwater verdrink.
Verstopte rioolpype lei tot rioolstortings, wat stink en tot gesondheidsprobleme kan lei.
Om dreinpype skoon te maak is duur. Dit kos die munisipaliteit geld en mannekrag wat vir ander gemeenskapsprojekte gebruik kon word.
Indien jy gevang word dat jy rommel stort of rondgooi, sal jy beboet word. Indien jy nie die boete kan betaal nie, kan jy tronk toe gaan.
Moenie dit doen nie!
- Moenie jou rommel langs die pad of in die stormwaterpype gooi nie.
- Moenie die volgende items in jou toilet afspoel nie: babadoeke, baby wipes, sanitêre doekies en tampons, koerantpapier, lappe, vetterige kos en vet.
- Moenie die volgende items in mangate en dreine gooi nie: takke, karbande, klippe, dooie diere en vuil lappe.
Jy kan help
Beskerm jou eiendom en jou mense teen die gevolge van die misbruik van rioolpype en stormwatersisteme só:
- Maak seker die area voor stormwatergate in die pad is skoon van blare en gemors.
- Moenie rommel strooi nie. Hou kosverpakkings, pastiekbottels, sigaretstompies en ander afval by jou tot jy by ’n vullisdrom kom - of tot by die huis waar jy dit in die asblik kan weggooi.
- Hou jou vullis by die huis in ’n swartsak en plaas dit op vullis-opteldag op jou sypaadjie uit. Jy kan elke week tot sewe swartsakke per huishouding uitsit.
- Plaas vuil babadoeke en gebruikte sanitêre produkte binne-in plastiek inkopiesakke en knoop dit toe voordat jy dit in ’n swartsak weggooi.
- Die toilet is nie ’n vullisblik nie. Gebruik dit slegs vir liggaamlike funksies en toiletpaper. Alle ander items moet in ’n swartsak, munisipale skepbak (skip) of by ’n stortingsterrein weggegooi word.
- Gooi bourommel, voertuigbande en ander groot goed by die munisipale stortingsterrein weg of binne-in ’n skepbak wat in jou gebied uitgesit is.
- Indien daar ’n herwinningsprogram in jou area is, gooi jou herwinbare items in die blou sak wat deur die munisipaliteit verskaf word. Plaas die blou sak op opteldag saam met jou swartsakke uit.
- Kyk uit vir enigiemand wat vir kwaadgeld rondloop en probeer om dreindeksels oop te maak - jaag hulle weg of meld hulle aan.
Rapporteer
Meld vullisverwante sake as volg aan:
- Verstopte riool- en stormwaterpype: Siviele Ingenieursdienste 044 801 9262/66 of 044 801 6300 (n/u).
- Mense wat groot items in dreinpype gooi: Wetstoepassing 044 801 6350 of 044 801 6300 (n/u).
- Vullis wat onwettig gestort is en verwyder moet word: Omgewingsdienste 044 802 2900 of 044 801 6300 (n/u).
- Dooie diere in die dorp en woonbuurte: Tuinroete DBV: 044 878 1990
- Dooie diere op die N2: Sanral 082 553 4878
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’