Wimpie Barnard, Pretoria:
Gedurende 2017 en 2018 was ek die eienaar van 'n erf in Merrimanstraat in George. In dié tyd het die George-munisipaliteit sonder my toestemming en sonder om my enigsins in die saak te ken, die erf omskep in 'n werksterrein. Hulle het 'n toilet opgerig, hope grond daar gelaat, vragmotors en swaar toerusting daar parkeer en die erf in 'n algemene onnet toestand verander.
Ek het 'n onvriendelike aanmaning van die munisipaliteit gekry dat ek die erf moet skoonmaak anders doen hulle dit en stuur die rekening vir my. Ek het hulle ingelig dat dit vir my onmoontlik is om die erf skoon te hou terwyl hulle dit beset.
Ek het geen reaksie gekry nie behalwe 'n rekening vir R1 540 vir die skoonmaak van die erf. Wie die erf skoongemaak het en hoe weet ek nou nog nie. Ek het geweier om dit te betaal en het sedertdien na meer as 'n jaar se e-posse en telefoonoproepe nog nie 'n bevredigende antwoord gekry nie.
Ek het wel 'n e-pos ontvang waarin hulle erken dat dit hulle is wat die erf beset het. Die erf is in die loop van 2018 verkoop en die munisipaliteit het die foutiewe skoonmaakrekening bloot by die uitklaringsyfer gevoeg wat aan die oordragprokureur verskaf is. Hierdie uitklaringsyfers is betaal tydens die oordragproses en gevolglik het die munisipaliteit die geld ontvang vir hierdie skoonmaak. Ek sukkel steeds om die bedrag terug te kry van die munisipaliteit. Werklik swak diens en onaanvaarbare optrede van die amptenare by die munisipaliteit. Ek het nou my prokureur gevra om die saak verder op te neem met hulle.
('n Artikel oor die skrywer se dilemma het vroeër vanjaar in die koerant verskyn. Toe die George Herald op daardie stadium by die munisipaliteit navraag gedoen het, was die reaksie dat die aangeleentheid ondersoek is en die antwoord direk aan Barnard oorgedra sou word.)