Pierre Janse van Rensburg, George
Die marteling, mishandeling en doodkap van honde soos berig op die voorblad en elders in George Herald (25 Maart) is erg ontstellend en vervul my met afgryse en woede. Dit is tragies om die diere se pyn, lyding en vrese selfs op die foto's te aanskou.
Mense wat hulle aan hierdie wreedhede en barbarisme skuldig maak, wat geen gevoel en respek vir lewe het nie, wat nie empatie het vir die diere se vrese en pyn nie en wat waarskynlik nie eens skuldig voel of berou oor hul wreedhede toon nie, toon psigopatiese neigings. Hoe kan 'n mens behae daarin skep om 'n dier te pynig?
Troeteldiere (asook alle soogdiere) het dieselfde breinstrukture en chemiese stowwe, wat verantwoordelik is vir emosies, as mense. Hulle kan gevoelens soos vrese, angs en gelukkigheid ervaar.
Hierdie diere se liggaamstaal reflekteer hul gevoelens. As hulle getraumatiseer word (soos duidelik op George Herald se foto's), kan waargeneem word hoe hulle vreesbevange, bang en selfs depressief lyk.
Diere wat mishandel word, kan dieselfde psigiatriese versteurings, soos angs, depressie en posttraumatiese stresversteuring ontwikkel. Dit wil voorkom asof baie mense oningelig insake diere se emosies en gedrag is.
Waar was hierdie wreedaards se ouers om toe te sien dat hulle nie diere mishandel nie? Of stel die ouers ook 'n swak voorbeeld vir hul kinders deur self wreedaardig te wees? Waar is die gemeenskap, wat tog sien wat in die strate gebeur? Of kyk hulle ook maar net toe tot hierdie wrede optredes? Waarom 'n mens 'n dier wil seermaak, gaan my verstand te bowe.
Sulke wreedhede en barbarisme kan nie langer deur 'n beskaafde samelewing geduld word nie. Die DBV en diereliefhebbers doen ongelooflike werk en behoort met alle mag ondersteun te word. Dit is ook belangrik dat die howe hierdie wreedaards swaar straf ten einde die regte boodskap uit te stuur. Ek kry die indruk dat die howe soms te sag omgaan met hierdie euwel in ons samelewing.
Die langtermyn oplossing lê egter in opvoeding en ingeligtheid, sodat ouers en kinders van kleins af respek vir alle lewe kan ontwikkel.
Almal behoort te besef dat diere (net soos mense) aandag, beskerming en liefde benodig. Diere behoort deel van die gesin te wees, een van die "kinders" in die huis. Of sekere mense die vermoë en/of wil het om hulle te bemagtig tot "dieper" aspekte van menswees is 'n ope vraag. Alhoewel ek soms moedeloos voel oor ons samelewing, voel ek tog dat 'n mens moet probeer om mense op te voed.
'n Moontlike oplossing is dat alle diere-eienaars 'n lisensie moet hê, nadat hulle 'n keuringsproses deurloop het. Dalk kan daar ook in laerskole se kurrikulum nuwe vakmateriaal oor hierdie onderwerp bygevoeg word. Dit is die gemeenskap se plig om die kwesbare diere (en natuurlik ook mense) te beskerm. Sosiale verantwoordelikheid is almal se plig.