Ingrid van Wyk, George:
Die George-hospitaal is een van die beste publieke hospitale in die land ... wanneer jy eers in 'n bed is.
Ek was daar met my huishulp se knieligament wat geskeur het. Ons het vanaf 17:00 tot 01:00 daar gesit en is huis toe gestuur met pynpille, 'n X-straal en informasie dat indien dit wel 'n geskeurde ligament is, dit nie op die X-straal opgetel kan word nie, net deur middel van 'n skandering en hulle doen nie skanderings in ongevalle nie.
Daar was een jong dokter aan diens. Daar was omtrent 40 mense wat gewag het.
Wat my geskok het, was die ernstige siek mense wat deur die nag daar moes regop sit omdat daar geen beddens meer in die hospitaal beskikbaar was nie.
Daar was 'n agtjarige dogtertjie met 'n drup aan wat deur die nag saam met haar oupa, ma en pa gesit het om die volgende oggend vir 'n blindederm-operasie te gaan. 'n Ander ou dame het dodelik siek in haar rolstoel gesit - ook om te wag vir die volgende oggend om te kyk of beddens beskikbaar raak. 'n Seun wat sokker gespeel het se arm was morsaf en hy het langer as ons daar gesit.
Die kapasiteit van die hospitaal is oorvol. As jy strategies kyk na die massiewe ontwikkelingsplanne vir die dorp, en die gemiddelde lae salarisse van die mense, is daar 'n hele gros mense wat afhanklik is van die openbare hospitaal.
Die vraag is: Waar in die ruimtelike ontwikkelingsplan van die munisipaliteit en die nuwe universiteitsplanne (by die Tuinroetedam) en die planne om George se ekonomnie na 'n makro-ekonomie te wil verskuif? Is die beplanning vir 'n addisionele publieke hospitaal of 'n uitbreiding van die bestaande een? As daar nie geld is vir nog 'n publieke hospitaal nie (wat van die provinsiale departement moet kom), hoe kan ons wil uitbrei sonder die nodige infrastruktuur in plek?
Hoe word pasiënte geprioretiseer om in beddens opgeneem te word? Dalk moet mens 'n nuwe kliniek bou net vir bevallings, gesinsbeplanning en sterilisasies. Bevallings kry ook prioriteit - en daar is duidelik baie daarvan.
Die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement antwoord:
George-hospitaal se noodeenheid, soos die meeste ander hospitale, is onder druk om die toenemende aantal pasiënte te behandel. Baie van die pasiënte wat na die noodeenheid kom vir behandeling het nie ernstige beserings nie en moes eerder hul naaste kliniek besoek het.
Die departement se 'Think Day Clinic'-loodsprojek wat na al die hospitale in die Wes-Kaap uitgerol sal word, het ten doel om te verseker dat pasiënte die gesondheidstelsel by die regte dienspunt betree vir die mees toepaslike behandeling.
Byvoorbeeld, pasiënte met oorpyn, nie-ernstige snye, lank bestande probleme soos neusbloei, maagpyn, en ’n geswikte enkel, ens, moet hul naaste kliniek besoek. Die noodeenheid is slegs vir pasiënte met ernstige en lewensbedreigende beserings en toestande, soos skiet- en steekwonde, hartaanvalle en erge kopbeserings.
Die hospitaal is tans besig met algemene instandhouding van die noodeenheid wat dit genoodsaak het om 'n gedeelte van die noodeenheid na die dagteater te skuif. Hierdie skuif het egter 'n impak op die aantal operasies wat tans gedoen kan word in die spesifieke teater, asook die aantal beddens beskikbaar in die noodeenheid.
Ons bedank die publiek vir hul geduld en sien uit daarna om hulle te verwelkom in die verbeterde noodeenheid.
• Die departement het gesê dat die George-hospitaal van Januarie tot Desember 2018 die volgende aantal pasiënte behandel het: buitepasiënte - 64 854; noodeenheid - 48 057; toelatings - 20 935.