GEORGE NUUS - Vorige en voornemende Volkspelers word genooi om hierdie Saterdag, 9 November, 'n spesiale geleentheid van Eendrag Volkspelelaer by die Voortrekkersaal in Caledonstraat by te woon.
By hierdie 'alles-in-een' dag gaan Volkspelers aan 'n 'deurdruk' deelneem (al 150 spele in die Volkspeleboek), vorige Volkspelers kan lekker saamkuier en herinneringe deel, en belangstellendes kan kom kyk wat Volkspele nou eintlik is.
Daar sal ook 'n uitstalling met Volkspelefoto's van oor die jare wees, asook inligting oor die ontstaan, geskiedenis en strewe van die beweging.
Om 08:00 begin die deurdrukkers die 150 spele aandurf, vanaf 10:00 is daar kuiertyd vir toeskouers en van 11:30 to 12:00 is daar geleentheid vir nuwelinge om aan die Volkspele deel te neem. Toeskouers kan ook lekker saamsing.
Gratis verversings (insluitend middagete) is beskikbaar vir spelers in Volkspeledrag, terwyl ander besoekers 'n ietsie te drinke saam met 'n versnapering of wat kan geniet.
Almal wat belangstel word gevra om vir Karen by 044 874 4904 of 062 288 0965 te kontak om voorbereiding te vergemaklik.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’