Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Dr. Hennie Barnard, 'n afgetrede beheerstelselingenieur, het verlede Saterdag sy eerste boek, Die lewe se lekker lesse, by Dutton's Cove in Heroldsbaai bekendgestel. Hier het die gehoor meer geleer oor hoe Hennie die oorgang van besigheidsman na skrywer gemaak het.
Hennie het vertel dat hy nog altyd 'n fyn waarnemingsvermoë gehad het en maklik die snaakse in netelige situasies raaksien.
Dit is presies wat in sy boek, wat uit 'n versameling van 23 kortverhale bestaan, uitgebeeld word. Hy neem die leser op 'n visuele en emosionele reis en ry saam met hulle die golf tot by 'n onverwagte en verrassende einde.
Sy skryfwerk, geïnspireer deur groot geeste soos Jan Spies, PG du Plessis, Annelie Botes en Dana Snyman, lees soos 'n kaggelvuurstorie oor gewone mense op 'n ongewone manier vertel.
Hennie hoop om 'n verskil te maak met sy skryfwerk. Hy verstaan, soos Martin Luther tereg gesê het: "As jy die wêreld wil verander, tel jou pen op." Met sy skerp sin vir humor en deernis bring Hennie diepte en insig in die menslike ervaring. Hy verstaan dat, in tye soos dié, die vermoë om vir onsself te kan lag van kritiese waarde is.
As periodieke rubriekskrywer vir Netwerk24 is Hennie nie onbekend met skryf nie. Met sy intelligensie en skerp waarnemingsvermoë blaas hy lewe in sy stories. Die verhale is gebore uit menige onvergeetlike gebeurtenisse oor die laaste veertig jaar, baie uit Mosselbaai, Heroldsbaai, George en Oudtshoorn, asook uit sy weermagdae by die Infanterieskool en 32 Bataljon. Drie van sy vier weermagstories is waar, maar watter een effens aangedik is, bly sy geheim.
Elrine Lottino sing Hennie Barnard se liedjie, My lewe is ’n lied. Foto: Ryna Barnard
Die gehoor was verras toe Hennie vertel het dat een van sy stories, In die skemer van 'n lewe geweef deur liedere, in 'n lied omskep is. Hy het self die lirieke en grootliks die melodie geskryf, met hulp van Elrine Lottino wat dit verfyn het.
VIDEO - Hennie se wese is in die stem van Elrine Lottino se ongelooflike vertolking van sy lied, My lewe is 'n lied, uitgebeeld.
Video met toestemming van Elrine Lottino. Video geneem deur Ryna Barnard.
Hennie kyk vorentoe en dink daaraan om meer toekomsgerigte verhale te skryf. Wie weet, dalk is hy Suid-Afrika se Elon Musk van storievertelling? Mens kan nie help om te wonder wat Hennie, met soveel breinkrag, alles kan vermag, veral nou dat hy dalk net te veel tyd op sy hande het nie.
Ryna Barnard, trotse dogter van Hennie Barnard Foto: verskaf
Die kersie op die koek?
Al Exclusive Books se voorraad is op die dag, asook by die kafee onder by Heroldsbaai na die boekbekendstelling uitverkoop. Die voorraad is intussen aangevul en beskikbaar vir aankope by Exclusive Books in die Garden Route Mall en by die kafee in Heroldsbaai. Hennie se boek is gepubliseer deur Turksvy Publikasies.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’