VERMAAKLIKHEIDSNUUS - Die geliefde kinderkarakter, Levinia die heksie, herleef vanjaar by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in die vertoning Liewe Heksie word gescam.
Die bekroonde en ervare jeug- en kinderteaterskepper Margit Meyer-Rodenbeck is die teksskrywer en regisseur, en die akteurs is die Eldon en Mia van der Merwe.
Plaaslike skole het 'n voorsmakie van hierdie teaterstuk geniet met opvoerings verlede Donderdag en Vrydag in die George-kunsteteater.
Die kleinspan het geskater van die lag soos hulle Levinia se manewales beleef.
In hierdie produksie leer Liewe Heksie meer oor geld en spaarvarkies. Haar kostelike sêgoed en kinderlike foute het die jong gehoor dadelik op hul gemak gehad.
Die uitvoerende vervaardiger, Start The Conversation, is 'n geregistreerde openbare voordeelorganisasie in Suid-Afrika en 'n wêreldwye silwer bekroonde YouTube-onderwyskanaal.
Die hoofdoel van STC is om mense reg oor die wêreld in staat te stel om selfversekerde finansiële besluite te neem en sodoende langtermyn finansiële veerkragtigheid te bou.
Met Liewe Heksie word gescam leer kinders basiese konsepte oor geld, wat hopelik 'n saadjie vir die toekoms plant.
- Dié KKNK- produksie is op 30 Maart (09:30), 31 Maart (12:30) en 1 April (16:30) by Hoërskool Oudtshoorn te siene. Kaartjies is beskikbaar by Webtickets.
Levinia die heksie se finansiële probleme word 'n teaterstuk.
Hierdie groepie van Franken VGK Primêr in Herold is reg vir die vertoning! Hulle is Luciano Blok, Hakeem Peterse, Aljay Majola, Masiano Claasen, Lesley-Ann Malgas en Stella Meiring. Foto's: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’