VERMAAK NUUS - Die mooi Klein-Karoo-dorpie Uniondale gaan komende naweek 'n miernes van bedrywigheid wees wanneer die 61ste Uniondale-landbouskou in samewerking met die George-munisipaliteit en George-toerisme hier aangebied word.
Spogdiere sal te sien wees in die Oostelike Provinsie Saalperd-streekskou. Die saalperd-subunies van die Oos-Kaap en Wes-Kaap gaan ook kragte meet in die interprovinsiale kompetisie, en in die OP-boerperd-klubskou pak die onderskeie klubs mekaar.
Die skaap- en bokafdelings word Vrydag beoordeel. Volgens een van die organiseerders, Eurika Stemmet, word voorsorg getref teen bek-en-klouseer.
"By die kleinvee-afdeling sal BKB se bek-en-klouseerprotokol toegepas word in die aflaai van die vee. By die skouterrein se groot toegangshek sal alle voertuie en voetgangers gesaniteer word met F10 sowel as daar waar die kleinvee afklim. Ons nooi almal hartlik uit om ons skou by te woon en dit saam met ons te kom geniet."
Die top-budgies in die provinsie gaan te sien wees in die Provinsiale Budgie-skou wat na verwagting groot aftrek sal kry en tydens die Jeugskou gaan jong plaasjapies wys wat in hulle steek.
"Ons het verskeie uitstallings van landbouprodukte, industriële toerusting, motors, klere, leerpro-dukte, tuisgebak en nog baie meer. Kosstalletjies en heerlike braai-vleisetes en jafels sal te koop wees," sê Stemmet.
Daar is ook vermaak vir kinders gedurende die skou.
Vrydag laatmiddag kan skougangers deelneem aan 'n voetpad-pretdraf/stap oor 5 km of 10 km, en die aand om 19:00 word heerlik skoudans gehou. Kaartjies vir die skoudans is beskikbaar by Marlene by 072 372 9768.
Een van die groot wenners by verlede jaar se skou.
Die program vir die naweek is soos volg:
Vrydag 7 November
08:00 Perdeklasse begin
09:30 Skape- en bokke-beoordeling begin
Na ete - Skaap/Bok Kampioenvertonersrondte
17:00 Voetpad-pretdraf/stap (5 km en 10 km)
19:00 Skoudans
Saterdag 8 November
08:30 Perdeklasse begin
08:30 Jeugskou begin
08:30 Budgie-beoordeling
10:00 Sierduiwe kan besigtig word
11:00 Toutrek
12:30 Parade deur ou motors en Harley-Davidsons.
Jeugskou-parade.
Toutrek-eindronde.
14:00 Perdekampioenskappe
14:00 Mnr. en Mej. Skou
18:00 Lions Steak-ete by kroeg.
Toegangsgelde is R30 vir volwassenes, R10 vir kinders en R10 vir pensioenarisse.
'n Skaapskeerdemonstrasie is gewoonlik deel van die Jeugskou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’