VERMAAK NUUS - Twee geliefde stemme vanuit die Tuinroete, Petronel Baard en Jannie Moolman, tree vanjaar saam op in 'n reeks Kerskonserte wat in Desember in George, Hartenbos en Mosselbaai aangebied word.
Die duo het die afgelope jaar wyd opgetree - van Bloemfontein tot Stellenbosch - nadat hulle in 2023 vir die eerste keer saam in Mosselbaai die verhoog betree het.
Die reeks skop af op Sondag 21 Desember om 15:00 in die NG Moederkerk in George. Kaartjies is beskikbaar via Quicket of navrae kan gerig word aan Morné Voigt by 063 100 2269.
Op Maandag 22 Desember volg 'n aandvertoning om 19:00 in die NG Kerk Hartenbos, met kaartjies beskikbaar by die kerkkantoor of op Quicket.
Die derde plaaslike konsert vind plaas op Dinsdag 23 Desember om 15:00 in Mosselbaai, in die geskiedkundige klipsaal (ou kerk) van die NG Moederkerk. Kaartjies is ook hier beskikbaar by die kerkkantoor of via Quicket.
Die twee sangers tree saam met 'n ensemble op: Johan Engelbrecht op viool (en perkussie en kitaar tydens die vertonings), Lelanè van der Merwe op tjello, en Franco Engelbrecht op klavier en as orkesleier.
Die kunstenaars het onlangs ook 'n nuwe Kerslied vrygestel, "Die Eseltjie", wat die geboorte van Christus uit die perspektief van 'n klein donkietjie vertel. Die lied, met woorde deur Rien Joubert en toonsetting deur Baard, is in Reebok opgeneem en is nou op alle digitale platforms beskikbaar. Die lied vorm deel van die Kerskonsertreeks.
• Kyk ook uit vir Jannie en Petronel wanneer hulle vakansiegangers vermaak in Buffelsbaai op 27 Desember met hul produksie Wat die Hart van vol is, 'n vertoning vol liefde vir hierdie feestyd.
- Saamgestel deur Michelle Pienaar
Petronel Baard. Foto verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’