GEORGE NUUS - Hoërskool Outeniqua en Hoërskool Bellville het op Saterdagmiddag, 8 Augus-tus, tydens 'n musiekmiddag bymekaar gekom in 'n viering van musikale talent.
Die middag het begin met 'n werksessie vir Bellville se skoolkoor, Outeniqua se Kwaggakoor en die Vokale Ensemble onder leiding van Bellville se dirigent, Pieter Bezuidenhout. Die deelnemers het aan stembou en gehoor gewerk en twee nuwe massakoorliedere aangeleer.
Die konsert het om 16:00 begin met optredes deur Outeniqua se Junior en Senior Jazzorkeste.
Die Melisiwe Plaatjie Collective, wat die vorige aand saam met Anna Davel by die Klein Karoo Klassique opgetree het, het daarna opgetree.
Die sanggedeelte van die konsert is deur Outeniqua se Vokale Ensemble ingelui, wat 'n verskeidenheid liedere uitgevoer het.
Bellville se skoolkoor het die formele gedeelte van die konsert met 'n sangoptrede afgesluit.
Hoërskool Outeniqua en Hoërskool Bellville se kore. Foto: Verskaf
Die middag het geëindig toe al die sangers saam op die verhoog verskyn het om die twee massakoorliedere wat tydens die werksessie aangeleer is, uit te voer.
Die geleentheid het aan leerders van die twee skole die geleentheid gebied om deur musiek saam te werk, nuwe vriendskappe te vorm en bestaande bande te versterk.
- Saamgestel deur Marguerite van Ginkel
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’