GEORGE NUUS - Die kinder- en gesinsorgorganisasie, Badisa, bied op Saterdag 14 Maart 'n fondsinsamelings-ontbyt by die NG Kerk Blanco-gemeente aan. Die bekroonde aktrise, outeur en motiveringspreker Susan Coetzer, is die gasspreker.
Die geleentheid, wat ten bate van Badisa gehou word, begin om 10:00 en beloof om 'n inspirerende oggend van stories, geloof en persoonlike groei te wees.
Coetzer is bekend vir haar eerlike en motiverende vertellings oor lewensuitdagings, soos vervat in haar boek, Super C: Van swaarmoedige Sannie tot supervrou.
Kaartjies kos R280 per persoon en sluit ontbyt in. 'n Gelukstrekking sal ook tydens die oggend plaasvind.
Badisa lewer noodsaaklike kinder- en gesinsorgdienste in die streek, en fondse wat tydens die ontbyt ingesamel word, sal aangewend word om dié programme verder te ondersteun.
Kaartjies is beskikbaar by Badisa se kantoor by Victoriastraat 60.
Navrae kan aan 044 874 5013 of 082 577 2682 gerig word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’