GEORGE NUUS - Neeske Alexander, oud-inwoner van George, is een van die wenners van Protea Boekhuis se Verbeel Dit! -kinderboekillustrasiekompetisie. Sy en die twee ander wenners Angela Banks en Hjalmar Pretorius is as Suid-Afrika se wenkunstenaars aangewys in die internasionale kompetisie.
Hul gaan met die beste illustreerders wêreldwyd meeding wat Protea saam met drie internasionale uitgewers reël.
'n Groep professionele beoordelaars vanuit Suid-Afrika - Piet Grobler, Alida Bothma en Marisa du Toit - het die drie beste inskrywings in elke betrokke land gekies. In Suid-Afrika is 50 uitstekende inskrywings ontvang en die kompetisie was sterk.
Die werk van die 20 wenkunstenaars gaan deel wees van 'n internasionale reisende tentoonstelling. Die finale keuse van wenillustrasies gaan ook in 'n internasionale katalogus gepubliseer en voorgestel word aan die bekendste internasionale kinderboekuitgewers by die Bologna-kinderboekebeurs in 2018. Neeske, wat deesdae in Kaapstad woon, is 'n akademiese skrywer, onderwyseres en kunstenaar, maar is oorspronklik van George waar haar ma Susan en haar pa Mike, steeds woon. Susan is 'n kranige kunstenaar in eie reg.
Neeske het 'n honneursgraads in onderwys vir kinders met spesiale behoeftes en 'n meestersgraad in visuele kuns. Om haar kreatiewe werke te besigtig besoek haar webwerf, www.neeske.co.za.
Neeske het skilderye ingeskryf vir vanjaar se South Cape Association of Visual Arts (Scava) kunskompetisie wat in die George-museum gehou word en Augustus voortduur.
Sy het die illustrasie van die sprokiesverhaal geniet. Die titel The jump gaan oor 'n jong meisie wat wil uitvind hoe dit is om te swem in 'n rotspoel. Sy besluit om in te spring, ten spyte van haar senuagtigheid. Sy is so tuis in die water dat sy 'n meermin word. Die storie gaan oor ondervindings en die omgewing wat wonderlik is as ons dapper genoeg is om dit te verken.
Die illustrasie is uit Neeske Alexander se storie The Jump en die beoordelaars het dit as geloofwaardig en poëties beskryf.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'