GEORGE NUUS - "Leef sekonde vir sekonde. Moenie dat stres jou lewe oorheers nie, want jy weet nie wat volgende gaan gebeur nie."
Dit is die boodskap van Ollie Terblanche, voormalige rugbyspeler en eienaar van die koffiehandelsmerk, Rise Coffee.
Ollie het verlede Vrydag, 25 April, 'n vol gehoor by De Dekke Restaurant in Groot-Brakrivier tydens 'n fondsinsamelingskonsert toegespreek. Die aand is georganiseer deur Suiderkruis Sekuriteit.
Musikante het kragte saamgesnoer om Ollie te help om 'n gespesialiseerde rolstoel te bekom waarmee hy kwaliteit tyd in die buitelug saam met sy gesin kan spandeer. So 'n rolstoel kos sowat R150 000.
Michael Lindt, Marius de Bruyn en Roan Ash het die gehoor vir ure vermaak, terwyl hulle gesellig verkeer en aandete en drankies geniet het.
Die atmosfeer was ontspanne, feestelik en sommer net heerlik. Die konsert is uiters goed ondersteun - daar was nie plek vir 'n muis nie.
Roan Ash, Michael Lindt, Gideon Maree (Suiderkruis Sekuriteit), Ollie Terblanche en Marius de Bruyn. Foto's: Bianca Maree
'n Ernstige besering tydens 'n rugby-wedstryd vir die Arende in 2014 het Ollie verlam gelaat, maar met ongelooflike deursettingsvermoë en harde werk, en sy vrou Chanel se ondersteuning, het hy egter weer begin loop.
Hy het verlede jaar weens 'n virusinfeksie, 'n ernstige terugslag gehad en moes vir 'n tweede keer leer loop. Buiten 'n gespesialiseerde rolstoel het Ollie ook 'n stamseloorplanting nodig - 'n kritieke stap in sy reis na herstel.
Michael Lindt (links) en Marius de Bruyn deel ’n verhoog. Foto: Bianca Maree
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’