GEORGE NUUS - 'n Besondere musiekkonsert word op Vrydag 25 April by De Dekke in Groot-Brakrivier gehou as deel van 'n veldtog om geld in te samel vir 'n gespesialiseerde rolstoel vir voormalige Arende-rugbyspeler Ollie Terblanche.
'n Aantal weldoeners het tot dusver 'n totaal van R85 000 geskenk nadat 'n artikel in George Herald en aanlyn geplaas is om die publiek bewus te maak van die veldtog.
Die kunstenaars Roan Ash, Marius du Bruyn en Michael Lindt het intussen na vore getree om hulle gewig in te gooi deur middel van 'n konsert om die balans op te maak van die R150 000 wat die rolstoel sal kos.
'Roan Ash and Friends Fundraiser for Ollie' beloof om 'n onvergeetlike aand van musiek, hoop en welwillendheid te wees. 'n Veiling in die kleine is ook op die program.
Deur dit te ondersteun, kan mense help om Ollie se droom te bewaarheid om in meer aktiwiteite te kan deel saam met sy woelige seuntjie, Lian (3) wat mal is oor die buitelewe. Dit sal ook Ollie se algemene lewenskwaliteit baie verbeter.
'n Ernstige besering tydens 'n rugbywedstryd vir die Arende in 2014 het hom verlam gelaat, maar met ongelooflike deursettingsvermoë en harde werk, en sy vrou Chanel se toegewyde ondersteuning, het hy egter weer begin loop teen die dokters se verwagtinge in.
Hy het verlede jaar 'n ernstige terugslag gehad weens 'n virusinfeksie, en moes homself vir 'n tweede keer optel en leer loop. Ollie kan tans met 'n loopring oor die weg kom, maar kan nie vinnig beweeg nie.
Ollie sê die ondersteuning van die gemeenskap is 'n riem onder die hart.
"Baie dankie aan almal wat sover 'n bydrae gelewer het. Dit is ongelooflik om te sien hoe baie mense hande vat om my droom 'n realiteit te maak, en al kom ons nie by die volle bedrag uit nie, is almal se harte om te help meer as genoeg vir ons.
"Net om te dink ek sal eendag aktiwiteite saam met my klein seuntjie kan doen, bring net dankbare trane en dit gaan 'n moontlikheid wees as gevolg van elkeen van julle se vrygewige hart," sê hy.
Kaartjies vir die konsert kos R280 en is te koop by Quicket. Deure open om 18:00.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’