GEORGE NUUS - Baie van ons verkies om hoogstens oppervlakkig kennis te neem van wat in die voortdurende Israel-Palestina-konflik gebeur. Suid-Afrika het reeds genoeg uitdagings van sy eie, meen baie.
Ander glo weer dat Jode en Palestyne waarskynlik bestem is om voortdurend in konflik te verkeer en dat daar in elk geval min is wat ons daaraan kan doen.
Daar is egter ook diegene wat oordeel dat ons as Suid-Afrikaners ’n mate van mede-verantwoordelikheid dra vir die huidige, beklemmende toedrag van sake in Israel-Palestina – en ook vir die bevordering van ’n beter toekoms vir sowel Palestyne as Israeliese Jode.
Daar word verder geglo dat so ’n beter toekoms in die sogenaamde Heilige Land terselfdertyd kan bydra tot ’n meer regverdige en hoopvolle toekoms hier in Suid-Afrika.
Iemand wat só oor vandag en môre dink, is Marthie Momberg, ’n bekende akademikus en veelsydige skrywer. Ná haar man se siekte en afsterwe in die laat 1990’s het sy haar lewensprioriteite toenemend begin heroorweeg. Haar eie vrae oor die wisselwerking tussen kultuur, identiteit, godsdiens en wêreldbeskouing het haar aangespoor tot verdere studie.
In 2011 het sy, namens die Wêreldraad van Kerke, vir drie maande menseregteskendings in Israel en Palestina gemoniteer. In 2022 het sy ’n eties-teologiese studie aangepak oor Suid-Afrikaanse kerkstandpunte met betrekking tot geregtigheid vir Palestyne.
Die kernvraag wat sy ondersoek, is hoe, indien enigsins, Suid-Afrikaanse denominasies hulself posisioneer teenoor die oproepe van Palestynse Christene om Israel se onderdrukking te weerstaan deur wat bekend staan as die “logika van liefde”.
Momberg se artikels oor Israel-Palestina het reeds talle kere in Suid-Afrikaanse en internasionale publikasies verskyn. Sy het ook verskeie referate aangebied op openbare, professionele en akademiese platforms, insluitend voorleggings aan die Suid-Afrikaanse Parlement en by plaaslike en internasionale konferensies.
Sy is ’n navorsingsgenoot by sowel die Beyers Naudé-sentrum vir Publieke Teologie as die Eenheid vir Morele Leierskap aan die Universiteit Stellenbosch. Verder is sy ’n postdoktorale genoot van Suid-Afrika se Nasionale Instituut vir Geesteswetenskappe en Sosiale Wetenskappe aan die Nelson Mandela-Universiteit.
Die eerste druk van haar boek, 21 Voices. From Israel and South Africa. Why the Palestinian Struggle Matters, is in 2023 op die kortlys vir die Andrew Murray–Desmond Tutu-prys geplaas.
Op 19 Februarie besoek Momberg haar geboortedorp wanneer sy om 10:00 in die historiese Langgebou, agter die NG Moederkerk, ’n praatjie lewer met die tema: Palestina: Hoe hou ons hoop lewend?
Tydens die geleentheid sal sy vertel hoe en waarom haar eie oortuigings oor Israel en Palestina oor die jare ingrypend verander het. Sy sal ook fokus op uitdagende en pynlike werklikhede, soos die huidige situasie in Gaza en die moontlike vernietiging van sowel Palestina as Israel.
Daarna sal sy aandag gee aan wat gedoen kan en moet word om hoop aan te wakker te midde van ’n voortgesette en oorweldigende konflik.
Ná die praatjie sal daar geleentheid wees vir bespreking en vrae, met ligte verversings daarna. Momberg se boek, 21 Voices (tweede, hersiene druk), sal te koop wees en sy sal beskikbaar wees om eksemplare te teken.
Toegang is gratis, maar vrywillige donasies van ongeveer R20 of meer per persoon sal by die deur met dank ontvang word om koste te help dek. Sitplek is beperk, en belangstellendes word aangeraai om vroeg te kom.
Momberg het haar PhD in Teologie in 2017 voltooi. Sy is tans ’n postdoktorale genoot aan die Nelson Mandela-Universiteit en ’n navorsingsgenoot by die Beyers Naudé-sentrum vir Publieke Teologie en die Eenheid vir Morele Leierskap aan die Universiteit Stellenbosch.
As postdoktorale genoot het sy in 2020 ’n toekenning vir uitsonderlike prestasie van die Universiteit Stellenbosch ontvang. Sy is ’n ere-lid en genoot van die Frederik van Zyl Slabbert-instituut vir Studenteleierskap, ’n lid van die Golden Key International Honour Society en dien op die Teologiekomitee van Global Kairos for Justice.
Haar bydraes oor Palestina en Israel verskyn gereeld in plaaslike en internasionale akademiese publikasies, en sy word dikwels genooi om konferensies, plaaslik en internasionaal, toe te spreek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’