VERMAAKNUUS - ’n Politieke spanningsroman wat afspeel in Suid-Afrika in die 1970's en 1980's en die fokus plaas op onder meer die rol van koerante in inligtingsbeheer.
Hoewel die storie fiktief is, spruit dit uit werklike nuusgebeure in ons land in daardie stormagtige jare.
Só sê Gert Coetzee, oudredakteur van Volksblad, oor sy debuutroman Lens - op die nuusspoor wat hy tydens die onlangse KKNK se boekgesprekreeks in Oudtshoorn met Daniel Hugo bespreek het.
Die boek is die eindresultaat van ’n MA-graad in skeppende skryfwerk wat Coetzee al in 2012 aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf het. Een van die vereistes was die lewering van ’n lewensvatbare manuskrip vir publikasie.
Die finale produk het eers ná 13 jaar én 10 afkeurbriefies verskyn.
“Die manuskrip het soms tot twee jaar gelê en wag. My ‘verskoning’ is dat ek in die tyd sowat 2 500 Volksblad-koerante moes uitgee.”
Eers ná aftrede einde 2022 - ná 35 jaar in die joernalistiek waarvan die laaste sewe jaar as redakteur - kon hy volle aandag aan die manuskrip gee. “Ek het gesny en van nuuts af geskryf en herskryf, ad infinitum.
VIDEO - LENS vat die leser na 'n fiktiewe koerant se hart - die rokerige nuuskantoor - waar die volgende "scoop" alles is. Ilse Schoonraad van Group Editors het met die skrywer Gert Coetzee gesels oor die ontstaan van LENS en nuus in die digitale era:
Gert Coetzee met sy roman voor kunstenaar Danie Marais se skildery van ’n Volksblad-leser.Fiksie en feite
“Hoe om die intrige en storie van ’n roman te bedink en karakters te ontwikkel, is ’n gans ander oefening as om oor nuusgebeure verslag te doen,” vertel Coetzee.
Eindelik moes hy ’n hele nuusredaksie skep vir die fiktiewe dagblad Oggendspieël sonder om argetipies te wees.
“Dit is waar die weerbarstige rookie-joernalis, Chris Meyer, inkom wat opsluit op sy eie die land se grootste joernalistieke scoop nog wil skryf, maar hom telkens vasloop.”
Die ware politieke moord op dr. Robert Smit en sy vrou, Jeanne-Cora, in 1977 dien as parallelle ankerpunt vir die fiktiewe raaisel in die boek. Die woorde RAU TEM wat op die muur van hul moordhuis geverf was, speel ook ’n rol in die verhaal.
“Joernalistiek in die Afrikaanse koerantwese en die gelade spanning, energie en romantiek van nuuskantore, nou feitlik vergane, dien as bindingselemente,” sê Coetzee.
Kragtoer en dagblad-saluut
Op die onlangse Bloemfonteinse bekendstelling van Lens by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum, in samewerking met Exclusive Books, het Charles Smith, Vrystaatse en Noord-Kaapse nuushoof van Netwerk24, Lens as ’n laaste saluut aan gedrukte dagblaaie bestempel.
Hennie van Deventer, destydse koerantehoof van Naspers en skrywer van boeke met ‘n joernalistieke- en nuustema, sê: “’n Kranige kragtoer met ’n verbluffende verwikkeldheid van tema, subtemas en klein sub-sub-tematjies.
"Die duisternis drade is soos ’n outydse skakelbord. Die hele spulletjie is vernuftig vasgeknoop. Dis my gevoelte nadat ek die 351 boeiende bladsye in twee sessies verslind het.
“Niks het nog in Afrikaans verskyn wat die werksaamhede, atmosfeer en gees van ‘n nuuskantoor naastenby so sekuur raakvat nie. Niks het ook nog verskyn waarin die komplekse politiek van die 80’s in sy vele fasette met soveel begrip aangeroer word nie,” sê Van Deventer.
Kry die boek
Lens word deur Turksvy Publikasies uitgegee en is beskikbaar op hul webblad.
Lesers kan ook vir Anna-Marie Roux van Communication Xellence in George kontak by am@commxellence.co.za om 'n eksemplaar te bekom.
Lens behoort ook eersdaags by boekwinkels beskikbaar te wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’