Op hierdie aand gaan die Suid-Kaap Kinderkoor en Tygerberg Kinderkoor sorg vir ‘n historiese gebeurtenis wanneer hulle vir die eerste keer saam in die Bellezza Chorale (Lieflike Koorsang)-konsert optree onder leiding van Jan-Erik Swart. Die Suid-Kaap Kinderkoor is die huidige nasionale ATKV Animato Kinderkoorkampioene.
Hulle berei tans voor vir ‘n oorsese toer na Duitsland en Switserland gedurende September/Oktober vanjaar. Hulle open ook die kerkdiens by die KKNK op Sondag, 3 April. Die Suid-Kaap Kinderkoor se repertorium sluit onder andere liedere in soos Kyrie, Panis Angelicus, Adoramus, For the Beauty of the Earth en Modimo Wa Re Rata.
Die Tygerberg Kinderkoor, onder leiding van Hendrik Loock, het die gesogte ATKV Animato-titel in 2009 verower. Hulle is in Julie verlede jaar as wêreldkampioene bekroon by die sesde Wêreldkoorspele in Shaoxing, China. Hulle het beide die Geestelike Musiek- en Volksmusiekafdelings (ope-afdelings) gewen.
Die optrede beloof dus kinderkoortalent van hoogstaande gehalte met liedere soos Emakhayeni, Jan Pierewiet, Stuur ‘n soentjie, Arihe en That’s when the music takes me op die program.
Kaartjies kos R60 vir volwassenes en R40 vir pensioen-arisse en kinders.
Bespreek by Marilize Larmour 082 5999 291 of PNA 044 873 0718.
Vir navrae, stuur ‘n e-pos na scmf@frend.co.za of skkk@soteria-rsa.org.
Die Suid-Kaap Kinderkoor span saam met die Tygerberg Kinderkoor vir ‘n optrede in die NG Kerk Denneoord.