VERMAAK NUUS - Die gewilde Eden Camerata-kamerkoor van George het weer 'n uiters opwindende jaar van sang en musiek in 2025 ervaar.
Die jaar het afgeskop met liefdadigheidsoptredes by die Rosemoor- en JJ Watson-huise vir bejaardes waar ruim skenkings van koorlede en die publiek oorhandig is. Hoogtepunte van die jaar sluit in die gesamentlike optredes met die Singfonix-manne-ensemble van Pretoria, die Suid-Kaap-kinderkoor, en die NWU PUK Koor.
Die koor het ook meer as 'n dosyn skoolkore uit die streek oorreed om in Meimaand deel te neem aan die ATKV se Applous-koorkompetisie wat in George aangebied is.
In Augustus verwerf die Eden Camerata 'n A+++ tydens die Suid-Kaap-kunstefees (eisteddfod) en ontvang 'n sertifikaat van uitnemendheid tydens die galakonsert.
Program met vers en melodie weer aangebied
‘n Program met vers en melodie ter viering van Arikaans se 100-jarige bestaan as ‘n amptelike taal was so gewild dat drie addisionele konserte gereël moes word. Die laaste uitvoering van dié gewilde program sal op 9 November, om 15:30, in die NG Moederkerk, George, aangebied word.
Die Kraaibosch Eden Melodia-konsert was ook uiters gewild. Hiertydens het die bekende bariton, Daniël Verster, saam met die koor gesing. Die besonderse lied, Kärlekens tid (meaning The time of love) wat deur Benny Andersson van ABBA-faam gekomponeer is en in Sweeds gesing word, roer beslis die hartsnare.
Nog 3 lekkerluister konserte
Daar bly hierdie jaar verder drie ander geleenthede oor waar musiekliefhebbers na uitvoerings van die koor kan gaan luister. Een daarvan is die spesiale konsert op 22 November in die Showroom-teater in Prins Albert. Op 26 November sal daar ook 'n etensuurkonsert om 13:10 in die George-museum se Sayers-saal gehou word.
Die hoogtepunt van die jaar is die koor se afsluitingskonsert op 5 Desember om 19:00 in die St. Marks-katedraal, George.
Tydens dié konsert sal die koor die vrugte van hul harde werk van die jaar ten toon stel met die sing van verskeie gewyde werke van onder andere Bruckner, Gjeilo, Lamprecht en Hagenberg. Die konsert sal afgesluit word met pragtige ligte werke in Afrikaans, Engels, Frans, Sweeds en Zulu.
Die jaarlikse afsluitingskonsert is baie gewild en die katedraal is gewoonlik vroegaand reeds vol. Almal word uitgenooi om hierdie gratis konsert by te woon. Donasies wat help om die koor se onkostes te dek, sal opreg waardeer word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’