GEORGE NUUS - Span Kirsten & Tulleken Vervoer (KTV) het in die winterkoue gekook deur die eerste plek in te neem na die eerste ronde in die Kommaweer Stoffeerders Love for Vintage Lenteliga vir besigheidspanne by die Outeniqua-rolbalklub.
Die 26 spanne het duidelik, in weerwil van die bibberweer, die spel geniet en later van die koue vergeet. Vir sommige spelers was dit vreemd om die bal met die gewig aan die eenkant te rol, maar hulle het gaandeweg daaraan gewoond geraak en al beter gevaar.
Hierdie reeks is die eerste in 'n lang tyd wat sonder klubspelers is om almal 'n gelyke kans in die kompetisie te gee. 'n Hele paar klubspelers wat in die vorige reeks in aksie was, het langs die baan gestaan en hul gunsteling spanne met wenke en toejuiging aangemoedig.
Nie een van die spanne het in die eerste ronde duidelik hul stempel afgedruk nie en die pad na die titel is nog wawyd oop.
Emtec het dieselfde hoeveelheid ligapunte as KTV met Werkloos, The Butcher Boys en Die Ryp Piesangs wat net een punt agter hulle is. Verskeie ander spanne is met 11 punte nog in 'n baie kompeterende posisie en kan maklik die appelwa in die komende rondes omgooi.
Die tweede ronde word vanaand (Donderdag) op die bane van die Outeniqua-rolbalklub in Airwayweg, Heatherpark, gespeel en die wedstryde skop stiptelik om 18:00 af met die prysuitdeling teen ongeveer 20:00.
Alle belangstellendes is welkom om die wedstryde gratis by te woon en in die opwinding te deel.
Die klublede berei ligte etes om die hongerpyne te verdryf en 'n kontantkroeg is ook beskikbaar.
Span Conti Kitchen Rollers is deur (van links) Christo Serfontein, Johan Mey, Roelien Serfontein en Riaan Bosvark verteenwoordig.
Uitslae
1 Kirsten & Tulleken Vervoer 13; 2 Emtec 13; 3 Butcher Boys 12; 4 Werkloos 12; 5 Die Ryp Piesangs 12; 6 Skubbe 12; 7 Butz & Gutz 11; 8 Just Property 11; 9 Conti Kitchens 11; 10 The Privates 11; 11 Supporter 11; 12 Rawson Rollers 10; 13 Aces High 10; 14 The Besociables 6; 15 Matopa Plumbers 6; 16 Kommaweer Stoffeerders 5; 17 Bruwer Reynolds Prokureurs 5; 18 Kruger Internasionaal 5; 19 Split Happens 5; 20 4 Musketeers 5; 21 Ricoh 4; 22 Mix n Match 4; 23 Mend a Bath 4; 24 Conti Granite 4; 25 Angel's 3; 26 Bowling Stones 3.
Wedstrydlys
KTV t Emtec; Butcher Boys t Werkloos; Die Ryp Piesangs t Skubbe; Butz & Gutz t Just Property; Conti Kitchens t The Privates; Supporter t Rawson Rollers; Aces High t Matopa Plumbers; The Besociables t Kommaweer Stoffeerders; Bruwer Reynolds Prokureurs t Kruger Internasionaal; Split Happens t 4 Musketeers; Ricoh t Mix n Match; Mend a Bath t Conti Graniet; Angel's t Bowling Stones.
Conti Granite Rollers se spanlede is van links: Jean en Francois Vorster en Werner en Amirien Barnard. Foto's: Kobus van Wyk Fotografie
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'