GEORGE NUUS - In sy konsert-program Laudes (Lofsange) speel Winand Grundling, een van Suid-Afrika se bekendste uitvoerende kunstenaars, pragtige Kersmusiek, asook 'n paar stukke van onder meer Mendelssohn en Andriessen.
Hierdie konsert vind plaas op Sondagmiddag, 19 Desember, om 15:30 op die besonderse Hill-orrel van die NG Moederkerk, George.
Sy programkeuse vir hierdie tyd, net 'n paar dae voor Kersfees, kan bydra om die gehoor 'n geestelike ervaring van die ware betekenis van Kersfees te gee.
Grundling het aan NMMU en US studeer en het verskeie nasionale en internasionale pryse gewen.
Hy tree gereeld as solokunstenaar op en ook by geleenthede soos die Woordfees en KKNK. Grundling komponeer en verwerk musiek vir sommige van sy eie aanbiedings soos 14 Stations of the cross en Alle volke klap julle hande.
Grundling is tans die orrelis by die NG-gemeente Stellenbosch-Welgelegen.
Grundling het die afgelope dekade verskeie konserte en aanbiedings in George gegee en baie entoesiasme en waardering by die luisteraars gaande gemaak. Vakansiegangers geniet dit ook om tydens hulle rustyd hier in die suide, goeie, verrykende Kersmusiek te kan ervaar.
Toegang is gratis, maar donasies sal waardeer word. Die teenswoordige Covid-19-gesondheidsmaatreëls by die deure word streng gehandhaaf.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'