VERMAAK NUUS - Die George-tak van Solidariteit Helpende Hand hou op Vrydag 19 September 'n gesellige Kerrie en kuier-aand ten bate van hul studiefonds wat al honderde kinders gehelp het om verder te studeer.
'n Voorbeeld van 'n student wat vandag gekwalifiseerd is en haar skoene in die samelewing volstaan danksy die studiefonds, is oud-Kwagga Lilani Barnard-Benadé.
Sy het haar mediese graad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf danksy 'n studielening van Solidariteit.
Barnard-Benadé, wat matriek aan Hoërskool Outeniqua met 'n 94%-ge-middeld geslaag het, werk tans vir die George-hospitaal.
Ten spyte van haar uitstekende skooluitslae en die feit dat sy toelating tot die mediese kursus gekry het, kon sy nie na matriek 'n beurs kry nie en haar ouers kon nie regkom met 'n studielening by die bank nie. Haar pa, Juan, sê die lening van Helpende Hand was 'n antwoord op gebed.
"Ons het op daardie stadium probeer om ons huis te verkoop om vir Lilani se studies te kon betaal, maar hy wou nie verkoop nie. Ons was onder erge finansiële druk. Die banke het nie teruggeantwoord op ons aansoeke om 'n lening nie.
"Die Helpende Hand-lening het gerealiseer net toe ons Lilani wou inlig dat sy dalk nie sal kan gaan studeer nie. Dit het die helfte van haar jaarlikse klasgelde gedek en ons het verder by ander fondse ook aangeklop, wat gehelp het om die wa deur die drif te trek.
"Ons is diep dankbaar. Dit sou tragies wees as 'n topkandidaat soos Lilani van die geleentheid vir verdere studies ontneem moes word."
Solidariteit se lening is rentevry en Lilani het dit begin terugbetaal toe sy begin werk het. "Ek geniet my werk. Daar is nie 'n vervelige oomblik nie - elke dag is anders. Ek is regtig baie dankbaar," sê sy.
Dr. Lilani Barnard-Benadé
Kaartjies vir kuieraand
Mense wat die studiefonds wil ondersteun, word genooi om die Kerrie en kuier-aand by te woon. Kaartjies kos R150 per persoon en sluit 'n feesmaal van hoender- en skaapkerrie, rys, 'n broodtafel en nagereg in.
Gaste is welkom om hul eie drinkgoed saam te bring. In plaas van 'n tradisionele kurkfooi word bydraes in die vorm van toiletware aangemoedig.
Benewens die ete en geselligheid, kan ondersteuners ook kompetisiekaartjies teen R20 aanskaf vir 'n gelukstrekkings met wonderlike pryse.
'n Opwindende veiling word ook aangebied. Die aand begin om 18:30 in die Gereformeerde Kerk se saal in Tweedestraat.
Kaartjies kan hier bespreek word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’