SUID-KAAP NUUS - Om nuwe dramaturge te ontwikkel nooi die Absa KKNK jong skrywers om deel te neem aan hulle teksontwikkelingsprojek.
"As die skrywersgogga behoorlik gebyt het, en jy voel jou pennevrug het die vermoë om gehore te bekoor en te vermaak, is die kompetisie wat aangebied word deur Absa KKNK en die Dagbreek Trust vir jou bedoel," so sê Theo Kemp, programbestuurder.
"Skrywers wie se dramatekste nog nooit opgevoer, uitgesaai of gepubliseer is nie - kan aan die inisiatief deelneem. Om die projek ook so toeganklik moontlik te maak, word geen inskryfgeld gevra nie. Daar is ook geen beperking op die aantal inskrywings per skrywer geplaas nie," sê Kemp.
Kemp het daarop gewys dat die projek ook 'n kompetisie- element bevat, aangesien 'n wenner aangewys gaan word. "Die wenner ontvang prysgeld ter waarde van R50 000, en word dan verplig om die wenteksvoorstel met die aangewese mentors te ontwikkel. By die keuring van die wenvoorstel ontvang die gelukkige skrywer die helfte van die geld, en dan by die voltooiing van die teks die res."
Vanjaar is die beoordelaars teaterkenners Nicola Hanekom, Margo Luyt en Christiaan Olwagen. Willemien Brümmer is verlede jaar as wenner aangewys.
Marthinus Basson is die regisseur van Brummer se debuutstuk, Braai, wat by die Absa KKNK 2014 te sien sal wees. Belangstellendes moet 'n voorstel met motivering, sinopsis en dialoog instuur teen 31 Julie. Geen laat aansoeke sal oorweeg word nie.
Die volledige inligtingstuk kan verkry word op die Absa KKNK se webtuiste by www.absakknk.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Klein-Karoo | Tuinroete nuus'