GEORGE-NUUS - Daar was minder as 20 mense in die Arts Theatre verlede Vrydagaand, maar dié wat daar was, was getuie van ‘n topgehalte vertoning van twee baie belowende plaaslike musikante.
Nico Marais, ‘n biologie-onderwyser van Hoërskool Outeniqua, en Jan Hoogendyk, Eden-gemeente se musiekdirekteur en pastoor in wording, het een van die beste vertonings nóg gelewer wat op die Arts se planke verskyn het.
Die klank was uitstekend, danksy Daniël van der Merwe van Staccato, en die aanbieding baie gemaklik informeel, dog vermaaklik.
Nico het ‘n verskeidenheid gewilde liefdesliedjies gesing, begelei met sy akoestiese kitaar, wat ‘n intieme atmosfeer geskep het vir Jan en sy orkes wat tydens die tweede helfte van die aand opgetree het.
Elvis Blue
Vir die spesifieke optrede het Jan as ‘Elvis Blue’ musiek gemaak. Die storie agter die naam het ‘n diepte aan die aand gegee wat ook in die musiek weerspieël is.
Jan se vrou, Chireze, werk by Bethesda Hospies en St Mary’s Kinderhuis, waar daar ‘n seuntjie met die naam van Elvis Blue gebly het. Voor sy dood, ‘n jaar en ‘n half gelede, het hy vir Jan gesê dat hy so bitter graag ook eendag ‘n musikant wil wees.
Met sy optrede verlede Vrydag het Jan gevoel hy wil musiek maak ter herinnering aan Elvis Blue, wat met sy unieke naam definitief in die musiekwêreld raakgesien sou word.
Jan het tydens sy vertoning heelwat splinternuwe liedjies gesing wat nog nooit vantevore opgeneem is nie. Sy werk is persoonlik, intens en musikaal absoluut lieflik melodieus.
Een van sy nuwe liedjies, 'Lately', is byvoorbeeld geskryf oor sy vrou tydens haar swangerskap.
Jan se interpretasie van Bill Withers se liedjie, There ain’t no sunshine when she’s gone het die gehoor na ver plekke geneem.
Artikel en foto's: Michelle Pienaar
Jan Hoogendyk (regs) en sy orkes - Richard van den Ordel met die kontrabas en Prieur du Plessis met die tromme.
Janó Fourie, Karel van Staden, Nanette Evenhuys, Suzanne Jordaan en Lizl Zeelie het hulle musikale vriende van Eden-gemeente ondersteun.