OUDTSHOORN NUUS - Die lewe is vol verrassings en watter beter manier om dit vir kinders te wys as in die teater.
Vyf kinderteaterproduksies word tussen 1 en 9 April by die 27ste KKNK, geborg deur Absa, aangebied, wat saam met hope ander aktiwiteite vir vermaak uit die boonste rakke vir die jongspan gaan sorg.
In Liewe Heksie vang vis keer die 2022 Kanna-bekroonde Margit Meyer-Rödenbeck en Deon van Zyl terug, wanneer ons almal se geliefde Liewe Heksie haar besem inspan as 'n visstok, maar dit sukkel om die vis te laat byt.
Die nare Geelheks en Koning Rosekrans maak ook 'n verskyning, Levinia beland in groot moeilikheid en het die Blommeland-maats se hulp dringend nodig.
Meyer-Rödenbeck sê kinderteater is haar gunsteling-genre en dat sy die interaksie met die kinders die heel meeste geniet. "Hulle energie en entoesiasme is aansteeklik. Dis die verskil tussen kindervermaak op die televisie en in lewende lywe. Kinderteater gee ons weer kans om te lag en om pret te hê.
Die Kanna-bekroonde duo van Margit Meyer-Rödenbeck en Deon van Zyl keer terug na die KKNK vir die debuut van Liewe Heksie vang vis.
Dit laat kinders ontvlug na 'n wonderwêreld van speel, waar daar nie reëls is nie en waar kreatiwiteit hoogty vier. Kinders se breine en gemoedere is so oop en kinderteater het 'n geweldige verantwoordelikheid om dit te voed," sê sy.
By Fliep-flappers ontmoet kinders die karakters van die gepubliseerde kinderboek Storiekasteel in lewende lywe. Die woelige Fukani en Fungi is altyd op soek na 'n nuwe avontuur en die gehoor deel in al hul pret. Liena van der Merwe, wat saam met WG Venter en Robyn Frost op die verhoog te sien is, sê kinderteater verander kinders se lewens omdat dit al hulle sintuie stimuleer.
"Televisie en film is net ouditief en visueel, maar lewendige teater prikkel hulle verbeelding. Hulle kan interaktief deelneem en dié ervaring maak hulle soveel ryker vir eie kreatiwiteit."
Twee hansworse uit 2052 vertel in Die dag toe Guppie sweef die storie van 'n grensposbewaarder, wat in die Republiek van die Kapok-boerevereniging bly. Dit is 'n veeltalige storie wat deur narrespel en fisieke komedie vertel word. Kerscha Titus en Robert Hindley deel die verhoog, met teks deur Onela Metuso.
Jakkalsdraaie - Die geveg met Anoecha Kruger en Marelize Viljoen is poppeteater, saamgestel rondom die fabels van Aesop, 'n storieverteller uit die antieke Griekse tydperk. Die poppeteaterstuk bevat 'n groot verskeidenheid kleurvolle karakters wat jonk en oud gaan laat lag, laat skrik en laat dans. Sue Diepeveen, produksiebestuurder, sê vir haar is daar niks so wonderlik soos om 'n kind se belewenis te sien sodra hulle in 'n teater instap nie.
"Met die opgewondenheid en die afwagting is dit asof daar 'n hele nuwe wêreld vir hulle oopgaan, waar hulle verbeelding vrye teuels het. Ek dink dit is uiters belangrik om kinders aan teater bloot te stel, want baie van wat hulle sien en inneem is op 'n skerm, en waarskynlik alleen op 'n rusbank by die huis. Hulle voel iets, maar, anders as in 'n teater, is daar niemand om dit mee te deel nie. Teater wys vir kinders dat die lewe vol verrassings kan wees."
In Ko' laat o's speel met Mikyall Harris, Nathaly Lottering en Kerscia Titus word daar gespeel met blikkies, stokkies, toue, poppe en balle, 'n regte mengelmoeskardoes. Volgens Harris stimuleer kinderteater kinders op kreatiewe maniere, om ook hulle persepsies te verander.
Saam met hierdie kinderteaterstukke, bied vanjaar se KKNK-program ook talle ander opwindende doendinge vir kinders.
In Gys die Volstruis kom kuier by KKNK leer Johnlene Scholtz en Karen Schoeman kinders interessante feite oor die Klein-Karoo se diere, plante en bakens, soos vervat in Johnlene se boek Gys die Volstruis se avonture in die Klein-Karoo. Dit word opgevolg met 'n kunsaktiwiteit wat aansluit by die tema vir die dag.
Dineke van der Walt, visuele kunskurator, en die veelbekroonde Karoo Kaarte-span bied saam Loop Speel aan, 'n lekker werksessie waar tjokkers voorgestel word aan speletjies en saam met maatjies ook hulle eie speletjies kan ontwikkel. Karoo Kaarte se splinternuwe fisieke teaterstuk, Droomkraan Kronieke, is perfek vir die hele gesin met poppe wat onder leiding van die internasionaal gerekende poppemeester Craig Leo gemaak is.
Die span het ook 'n kinderstorieboek saamgestel en bied sessies aan waar hulle uit dié boek lees en daarna saam stories skryf. 'n Wye reeks kinderboeke is ook te koop by die Boekeparadys.
Kyk ook uit vir straatteater in Baron van Reedestraat, waar opwip optredes kinders se asems gaan wegslaan – dit is 'n karnaval op toer met sangers, 'n vuurblaser en baie meer.
As jou kind graag self wil optree en hul talente wil ontwikkel, skryf in vir die Con Spirito-kunswedstryd wat op 3 April plaasvind. Kategorieë sluit in drama, musiek, kuns, sang, kreatiewe skryfwerk, dans en lees en daar is ook werksessies in debat, redenaars, drama en sessies vir sanggroepe. Lees meer by www.conspirito.co.za.
Moenie al hierdie kindervermaak by die KKNK op Oudtshoorn misloop nie. Die volledige feesprogram is beskikbaar by kknk.co.za en kaartjies is aanlyn beskikbaar by Webtickets of jou naaste Pick n Pay.
Vir meer inligting, kontak die KKNK per e-pos by info@kknk.co.za, telefonies by 044 203 8600 of stuur 'n WhatsApp na 065 285 2337.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’