VERMAAK NUUS - Hoërskool George se dramadepartement het sy merk op die nasionale verhoog gemaak deur 'n top-4-posisie by die ATKV Karoo-toneelfees in Victoria-Wes te behaal. Die fees is van 7 tot 9 Augustus aangebied.
Die skool se produksie, Vyf minute voor die einde, geskryf deur Jade Sateria, is as een van die vier beste produksies uit 15 skole van regoor Suid-Afrika aangewys. Asanele Muggels is ook as een van die fees se top-3-aktrises aangewys.
Vyf minute voor die einde vertel die aangrypende verhaal van 'n ma, vertolk deur Muggels, wat met 'n reeks traumatiese gebeure en uitdagings worstel, waaronder werkloosheid, finansiële probleme, huweliksprobleme en die verlies van haar baba.
Nadat sy ook verkrag word en haar man van haar skei, bereik haar emosionele stryd 'n tragiese keerpunt.
Die produksie het 'n unieke teaterbenadering gevolg: die ander karakters was nie tradisionele mensekarakters nie, maar het die ma se verskillende emosies vergestalt.
Alhoewel die storielyn realisties was en moeilike temas aangespreek het, is dit deur middel van epiese teater aangebied, wat die gehoor op 'n besondere manier by die ma se innerlike stryd betrek het.
Die akteurs - Keenan Olivier, Chessah Ruiters, Asanele Muggels, Jaylee-Aan Biel, Reonaldo Fortuin en Elvino Martin - het onder leiding van hul onderwyseres, M Pietersen, en oudleerder en regisseur, Duran Ruiters, opgetree.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’